Nuus 16:00
BULLETIN 22 April 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Steenhuisen kondig die aankoms van twee-miljoen dosisse bek-en-klouseer-entstof aan
# Rugby: Die Leeus se toer gee Rugby Australië ‘n rekord-bedryfsoorskot
# En ‘n Deense dorp vervang straatligte met rooi LED-ligte om vlermuise te beskerm
# Die minister van Landbou, John Steenhuisen, sê twee-miljoen dosisse bek-en-klouseer-entstof het in Suid-Afrika aangekom, en sal binnekort in provinsies versprei word. Hy sê dis deel van ‘n groter poging om die uitbreking te beperk en ‘n siektevrye status te herwin om rooivleis-uitvoermarkte te heropen. Bykomende entstofdosisse is ook uit Argentinië bekom, hangende goedkeuring. Entstowwe sal toegeken word op grond van gevare, terwyl bykomende dosisse uitgehou word vir sleutelsektore soos suiwel, voerkrale en varke.
# Die geskorste Sedibengse adjunk‑distrikspolisiekommissaris, Abraham Nkhwashu, het voor die Madlanga-kommissie getuig hy het nooit die Armand Swart-moorddossier vir persoonlike gewin geëis nie. Die omstrede sakeman Katiso ‘KT’ Molefe word beskuldig van die moord. Nkhwashu sê sy optrede was gegrond op opdragte van die Gautengse polisiekommissaris, Tommy Mthombeni. Hy sê sy verhouding met Molefe was dié van ‘n swaer ingevolge gewoontereg-bande, ontken enige oortreding en hou vol die versoeke was regmatig:
# Die Bestuurskollege van Suider-Afrika sê Suid-Afrika se gesondheidsorgstelsel verkeer onder druk, met volgehoue uitdagings rakende personeel, infrastruktuur en dienslewering wat toegang tot gehaltesorg beperk. Adri van der Merwe van MANCOSA waarsku kwessies soos verdeelde datastelsels, medisyne-voorraadtekorte en swak belyning moet dringend aangepak word. Sy sê al is hervormingspogings soos die Nasionale Gesondheidsversekering belangrik, is dit van kritieke belang om die huidige stelsel bestendig te kry:
# Rugby: Rugby Australië is uiteindelik uit die skuld danksy verlede jaar se besoek van die Britse en Ierse Leeus, terwyl volgende jaar se aanbieding van die Wêreldbekertoernooi sake verder sal verbeter. Uitvoerende hoof Phil Waugh het ‘n rekord-bedryfsoorskot van 822-miljoen-rand aangekondig nadat meer as 370-duisend toeskouers verlede jaar die Wallabies se sewe tuistoetse bygewoon het, ‘n rekord vir buite ‘n Wêreldbekerjaar. Hy sê Rugby Australië kom sy belofte na om die spel se finansies te herskep, trots te herstel en ‘n nuwe strategiese koers in te stel.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-47-sent teen die dollar, 19-rand-32-sent teen die euro en 22-rand-23-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 78-duisend-348-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-751-dollar-52-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 94-dollar-68-sent per vat.
# En ten slotte: LED-straatligte is langs ‘n vlermuis-deurgang in Gladsaxe, Denemarke, ingestel om onnatuurlike beligting te verminder, sodat sewe vlermuis-spesies snags vrylik kan beweeg. Navorsing bevestig rooi lig ontwrig nie vlermuis-bedrywighede soos wit of groen lig nie, en handhaaf hul voeding- en bewegingspatrone. Die beligting-ontwerper Philip Jelvard van Light Bureau sê die kleur kan as ‘n sein en ‘n hulpmiddel werk, om verbygangers bewus te maak dit is ‘n spesiale natuurgebied wat die munisipaliteit wil beskerm en bewaar.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….