Nuus 15:00
BULLETIN 22 April 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Inflasie styg tot 3,1-persent in Maart namate lewenskoste styg
# Atletiek: Bolt sê Gout moet homself met ‘n sterk ondersteuningspan omring
# En Amnestie Internasionaal sê roofaanvalle op multilateralisme en internasionale reg was kenmerkend van 2025
# Statistieke Suid-Afrika sê inflasie het in Maart tot 3,1-persent gestyg vanaf drie-persent in Februarie, met pryse wat maandeliks met 0,6-persent gestyg het. Die toename is aangevuur deur hoër koste in verskeie kategorieë, insluitend onderwys, vervoer, behuising en verblyfdienste. Woordvoerder Ricado Johnson sê vervoerinflasie het in deflasie gebly as gevolg van laer brandstofpryse, terwyl voedselinflasie vir ‘n tweede agtereenvolgende maand gedaal het, tot 3,6-persent:
# Die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Willie Aucamp, het ‘n aksiegedrewe en voldoende befondsde aanpassings- en versagtingsagenda versoek om ontwikkelende ekonomieë te help om die klimaatkrisis aan te pak. Hy het deelgeneem aan die 17de Petersberg-klimaatdialoog wat vandag in Berlyn, Duitsland, eindig. Die bespreking het gefokus op beslissende stappe om die klimaatkrisis aan te pak en vertroue in multi-laterale klimaatonderhandelings te herbou. Aucamp sê dis belangrik om billike oplossings te bevorder wat aangepas is vir die spesifieke uitdagings van ontwikkelende lande en die verbetering van wêreldwye samewerking.
# Die Chinese president, Xi Jinping, sê Beijing is gereed om Afrikalande te help met die ekonomiese onrus van die Amerikaans-Israelse oorlog teen Iran. Afrikalande maak baie staat op brandstof-invoere, voedsel en kunsmis, en daar is tans wêreldwye ekonomiese skokke wat voortspruit uit die sluiting van die Seestraat van Hormoes. Xi sê China en Afrika, saam met ander lande van die Globale Suide, verteenwoordig ‘n regverdige mag in hierdie onstuimige en hervormende wêreld. China sal van volgende maand ‘n nul-tariefskema instel vir alle invoere vanuit 53 Afrikalande.
# Atletiek: Die wêreld se vinnigste man, Usain Bolt, het die Australiese naelloopsensasie Gout Gout aangespoor om homself met ‘n sterk ondersteuningspan te omring sodat hy nie deur sukses ontspoor word nie. Die agtienjarige Gout word reeds vergelyk met die Jamaikaan wat steeds die wêreldrekords in die 100- en 200-meter hou. Bolt sê Gout het hopelik die regte mense om hom te lei en op atletiek te laat fokus. Gout is gereed om op 10 Junie sy Diamantliga-buiging in die 200-meter te maak in Oslo.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-44-sent teen die dollar, 19-rand-31-sent teen die euro en 22-rand-21-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 78-duisend-285-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-756-dollar-76-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 94-dollar-94-sent per vat.
# En ten slotte: Amnestie Internasionaal waarsku die wêreld is op die randjie van ‘n gevaarlike nuwe era, aangevuur deur magtige state, korporasies en anti‑regte‑bewegings se aanvalle op multilateralisme, internasionale reg en menseregte. ‘n Jaarverslag oor die stand van die wêreld se menseregte toon misbruik in 144 lande gedurende 2025. Sekretaris-generaal Agnès Callamard sê die mensdom word aangeval deur transnasionale anti-regtebewegings en roofregerings soos Amerika, Rusland en Israel:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….