Nuus 14:00
BULLETIN 22 April 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Hof weier borgtog aan polisie-sersant Fannie Nkosi
# Tennis: Venus oorweeg nie uittrede nie ondanks nog ‘n eersteronde-nederlaag
# En Suid-Afrika onthou die legendariese stoeier Jan Wilkens na sy dood op 83
# Die geskorste polisie-sersant Fannie Nkosi is borgtog in Pretoria-Noord se Landdroshof geweier. Hy staan tereg op aanklag van diefstal, regsverydeling en die onwettige besit van ammunisie en ‘n skokgranaat. Landdros Thandi Theledi het beslis Nkosi se vrylating sal vertroue in die regstelsel skend en hy sal dalk met getuies inmeng. Sy sê die staat het ‘n sterk saak, en het die verrigtinge tot 21 Mei uitgestel:
Nog nuus uit die howe:
# Elf beskuldigdes wat in hegtenis geneem is vir beweerde bedrog teen die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente, het in die Lephalale-landdroshof in Limpopo verskyn op aanklag van bedrog en diefstal. Fondse wat geoormerk was vir studentebeurse is na bewering vir persoonlike gebruik herlei na bedrieglike bankrekenings en ondernemings. Al die beskuldigdes is borgtog toegestaan en sal op 7 Mei in die Handelsmisdaadhof verskyn terwyl die ondersoek voortduur.
# Die DA eis dringende parlementêre ingryping oor kommerwekkende syfers in KwaZulu-Natal, wat aandui 421 meisies van 10- tot 14-jaar het in die 2025/26-boekjaar swanger geraak. Die DA-lid, Angel Khanyile, sê dit weerspieël wydverspreide seksuele misbruik en stelsel-mislukkings in rapportering en vervolging. Sy versoek ‘n gesamentlike vergadering met die polisie en belangrike staatsdepartemente om samewerking te verbeter en te verseker oortreders word vervolg om kinders te beskerm:
# Tennis: Die voormalige wêreld-nommer-een, Venus Williams, hoop steeds om ‘n promotorskeuse vir die Franse Ope te wees, al is sy in die eerste ronde van die Madridse Ope in Spanje uitgeskakel. Die 45-jarige Williams het die afgelope tyd gesukkel om verder as ʼn eerste ronde te kom. Sy oorweeg egter nog nie uittrede nie. Die mans-loting begin vandag. Die wêreld-nommer-een, Jannik Sinner van Italië, is die volslae gunsteling om sy vyfde agtereenvolgende Meesters-eenduisend-toernooi te wen in die afwesigheid van die plaaslike held en wêreld-nommer-twee, Carlos Alcaraz.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-46-sent teen die dollar, 19-rand-34-sent teen die euro en 22-rand-26-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 78-duisend-122-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-756-dollar-21-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 94-dollar-58-sent per vat.
# En ten slotte: Die stoeier Jan Wilkens se dood op 83-jarige ouderdom het ‘n stortvloed van eerbetoon ontlok van familielede, die stoeigemeentskap en lewenslange aanhangers. Die gewese sesmalige super-swaargewig-wêreldkampioen was bekend as “Die Champ” en “Oom Jan”. Hy word onthou vir sy fisiese oorheersing in die kryt, maar ook vir sy sterk karakter daarbuite, sy nederigheid en blywende bydrae tot die sport in Suid-Afrika. Wilkens het in 1987 uitgetree na ‘n loopbaan van meer as drie-duisend gevegte.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….