Nuus 13:00
BULLETIN 22 April 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Hof weier borgtog aan polisie-sersant Fannie Nkosi
# ‘n Pastoor laat vaar sy borgtog-aansoek in ‘n kinder-verkragtingsaak
# En rugby: Die Haaie versoek ‘n formele hersiening van die Ospreys-vleuel se optrede wat Hooker beseer het
# Die geskorste polisie-sersant Fannie Nkosi is borgtog geweier in Pretoria-Noord se Landdroshof. Hy staan tereg op aanklag van diefstal, regsverydeling en die onwettige besit van ammunisie en ‘n skokgranaat. Landdros Thandi Theledi het beslis Nkosi se vrylating sal vertroue in die regstelsel skend en hy sal dalk met getuies inmeng. Sy sê die staat het ‘n sterk saak, en het die verrigtinge tot 21 Mei uitgestel:
# Die 58-jarige pastoor en voormalige beleggingsbankier wat beskuldig word van die verkragting van ‘n 12-jarige meisie, het sy borgtogaansoek laat vaar in die Landdroshof in Roodepoort, Gauteng. Tshepo Ntsimane het vanoggend in die hof verskyn, maar nie voortgegaan met sy borgtog-aansoek nie. Die saak is tot 20 Mei uitgestel vir verdere ondersoeke. Die saak spruit voort uit bewerings wat verband hou met Paasnaweek, en owerhede gaan voort met hul ondersoek. Ntsimane bly in aanhouding terwyl die verrigtinge voortduur.
# Die minister van Vervoer, Barbara Creecy, sê dis onaanvaarbaar dat die Suid-Afrikaanse Lugdiens twee agtereenvolgende ouditvrywarings van die Ouditeur-Generaal ontvang het. Die lugredery het in die 2024/25-boekjaar 83-persent van sy jaarteikens bereik en ‘n wins van 30-miljoen-rand getoon. Dit het egter ‘n bedryfsverlies van 472-miljoen-rand aangeteken. Creecy het aan die Parlement se portefeuljekomitee oor Vervoer gesê bedryfsveranderings word benodig om die lugdiens finansieel volhoubaar te maak:
# Die EFF sê die minister van Landbou, John Steenhuisen, kon nie daarin slaag om ‘n samehangende, deursigtige en geloofwaardige verslag aan die Parlement te lewer oor die omvang van die bek-en-klouseer-uitbreking nie. Aangemelde uitbrekings het skerp gestyg van 932 gevalle in Maart tot een-duisend-502 verlede week. Die Wes-Kaap het die afgelope maand geen nuwe gevalle aangemeld nie. EFF-woordvoerder Laetitia Arries sê die vlak van vermorsing van entstof is ook kommerwekkend:
# Rugby: Die Haaie het die Verenigde Rugbykampioenskap gevra vir ‘n formele hersiening van ‘n voorval tydens die wedstryd teen Ospreys wat die Springbok-agterspeler Ethan Hooker se deelname kort voor rustyd beëindig het. Ospreys se vleuel, Luke Morgan, is nie gestraf toe hy op Hooker geduik het nadat hy die besoekers se tweede drie gedruk het nie. Sy skouer is verstuit. Hooker het na Suid-Afrika teruggekeer vir skanderings om die erns van die besering te bepaal, en gaan na verwagting lank buite aksie wees.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-45-sent teen die dollar, 19-rand-34-sent teen die euro en 22-rand-25-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 78-duisend-40-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-760-dollar-44-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 94-dollar-73-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….