Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 22 April 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met rugby: Die Haaie het die Verenigde Rugbykampioenskap gevra vir ‘n formele hersiening van ‘n voorval tydens die wedstryd teen Ospreys wat die Springbok-agterspeler Ethan Hooker se deelname kort voor rustyd beëindig het. Ospreys se vleuel, Luke Morgan, is nie gestraf toe hy op Hooker geduik het nadat hy die besoekers se tweede drie gedruk het nie. Sy skouer is verstuit. Hooker het na Suid-Afrika teruggekeer vir skanderings om die erns van die besering te bepaal, en gaan na verwagting lank buite aksie wees.
Springbok-afrigter Rassie Erasmus sê intussen hy is opgewonde om die seisoen op 20 Junie in Gqeberha teen die Barbarians af te skop. Die ster-belaaide Barbarian-span word deur die voormalige All Black-afrigter, Scott Robertson, afgerig. Die Springbokke het nog nooit op die Nelson Mandelabaai-stadion verloor nie. Hulle het agt van hul nege toetse gewen en een was gelykop. Erasmus sê die Barbarians sal ‘n behoorlike toets wees omdat hulle na Suid-Afrika kom met ʼn ervare en gerekende span afrigters.
# Sokker: Die wêreld-beheerliggaam, FIFA, sê meer as vyf-miljoen kaartjies is reeds verkoop vir die Wêreldbekertoernooi wat op 11 Junie in Amerika, Kanada en Mexiko begin. ʼn Nuwe besending kaartjies vir al 104 wedstryde is van vandag te koop. FIFA sê afhangende van beskikbaarheid, sal bykomende kaartjies deurlopend beskikbaar gestel word tot die eindstryd op 19 Julie. Vanjaar se toernooi sal na verwagting die bywoningsrekord van 3,5-miljoen oortref wat in 1994 in Amerika opgestel is.
# Atletiek: Die wêreld se vinnigste man, Usain Bolt, het die Australiese naelloopsensasie Gout Gout aangespoor om homself met ‘n sterk ondersteuningspan te omring sodat hy nie deur sukses ontspoor word nie. Die agtienjarige Gout word reeds vergelyk met die Jamaikaan wat steeds die wêreldrekords in die 100- en die 200-meter hou. Bolt sê Gout het hopelik die regte mense om hom te lei en op atletiek te laat fokus. Gout is gereed om op 10 Junie sy Diamantliga-buiging in die 200-meter in Oslo te maak.
# En swem: Die Noorweegse swemfederasie sê hy gaan nie internasionale swemkampioenskappe aanbied terwyl Wêreldatletiek atlete van Rusland en Belarus toelaat om deel te neem nie. Pole het ʼn soortgelyke uitgangspunt oor die kwessie. Wêreld-watersport het die neutraliteitsbeperkings verlede week opgehef, wat swemmers van die twee nasies toelaat om die eerste keer sedert 2022 onder hul vlae deel te neem. Noorweë vra ʼn groter streeksboikot van gasheer-pligte. Wêreld-watersport sê swembaddens en oop water moet plekke bly waar atlete van alle nasies in vrede kan meeding.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….