Nuus 12:00
BULLETIN 22 April 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Verkiesingskommissie sê die voorbereiding vir die plaaslike verkiesing is voor skedule
# Sokker: ‘n Nuwe besending Wêreldbeker-kaartjies is beskikbaar nadat meer as vyf-miljoen reeds verkoop is
# En: Die Tuinroete is aangewys as die wêreld se beste vakansieroete
# Die Verkiesingskommissie sê hy is gerieflik voor skedule met tegniese voorbereidings vir die plaaslike regeringsverkiesing. Net meer as 3,1-miljard-rand is toegeken vir die 2026/27-boekjaar en die kommissie verwag om 4,7-miljard-rand te bestee, wat ‘n tekort van 1,6-miljard-rand laat. Dit sal gedeeltelik gedek word deur 1,1-miljard-rand wat van die vorige jaar oorgedra kan word, hangende goedkeuring van die Nasionale Tesourie. Uitvoerende hoof Sy Mamabolo sê die verkiesing sal vry en regverdig wees:
# Forum for South Africa vra president Cyril Ramaphosa om nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, te skors. Hy het gister in die Pretoriase Landdroshof verskyn op aanklagte wat verband hou met ʼn onregmatige tender van 360-miljoen-rand aan Medicare24, wat aan die omstrede sakeman Vusimuzi ‘Cat’ Matlala behoort. FOSA se leier, Tebogo Mashilompane, sê Masemola se voortgesette teenwoordigheid in die amp onder ʼn wolk van ernstige aantygings, toon ʼn ineenstorting van leierskapstandaarde:
Nuus uit die buiteland:
# Taiwan se president, Lai Ching-te, het sy reis na Eswatini gekanselleer waar hy die 40ste herdenking van koning Mswati se troonbestyging sou bywoon. Hy het China daarvan beskuldig dat hulle druk geplaas het op die Seychelle, Mauritius en Madagaskar om toestemming terug te trek dat sy vliegtuig oor hul gebiede mag vlieg. Taiwan se presidentskantoor sê die dwang-optrede om lande hul besluite deur intimidasie te laat verander, skend internasionale reëls en ondermyn die streek se status quo. Die voormalige Swaziland is Taiwan se enigste diplomatieke bondgenoot in Afrika.
# Sokker: Die wêreld-beheerliggaam, FIFA, sê meer as vyf-miljoen kaartjies is reeds verkoop vir die Wêreldbekertoernooi wat op 11 Junie in Amerika, Kanada en Mexiko begin. ʼn Nuwe besending kaartjies vir al 104 wedstryde is van vandag te koop. FIFA sê afhangende van beskikbaarheid, sal bykomende kaartjies deurlopend beskikbaar gestel word tot die eindstryd op 19 Julie. Vanjaar se toernooi sal na verwagting die bywoningsrekord van 3,5-miljoen oortref wat in 1994 in Amerika opgestel is.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-44-sent teen die dollar, 19-rand-32-sent teen die euro en 22-rand-23-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 78-duisend-57-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-754-dollar-58-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 94-dollar-69-sent per vat.
# En ten slotte: Autotrader het die Tuinroete in die Wes- en die Oos-Kaap aangewys as die wêreld se beste vakansieroete na ʼn wêreldwye studie oor toegang tot natuurtonele, padgehalte, die weer en bestuurders se ervaring. SANParke se woordvoerder, JP Louw, sê die roete sluit die Wildernis-, Knysna- en Tsitsikamma-gedeelte van die Tuinroete-nasionale Park in. Hy sê woude, riviere, kuslyne en natuurlewe bied bedrywighede soos kanovaart, staptogte en wandelinge op die strand:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….