Nuus 08:00
BULLETIN 22 April 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Reserwebank sê die Midde-Oosterse konflik hou positiewe risiko’s in vir die land se inflasiekoers
# Die Ouditeur-Generaal se kantoor bevraagteken die SAL se winsgewendheid
# En Donald Trump sê die skietstilstand met Iran word verleng
# Die Suid-Afrikaanse Reserwebank wys daarop dat die voortslepende oorlog in Iran wesenlike positiewe risiko’s vir inflasie inhou, hoewel hy in hierdie stadium verwag dat inflasie met een persent na weerskante van sy teiken van drie persent kan beweeg. In sy Monetêre Beleidshersiening wat twee maal per jaar uitgereik word, sê die bank hy voorsien ‘n gemiddelde koers van 3,7-persent vir vanjaar voordat dit laat in 2027 tot sy teiken sal verslap. Die president van die Reserwebank, Lesetja Kganyago, sê Suid-Afrika is danksy ‘n laer inflasieteiken en vootdurende fiskale konsolidasie beter toegerus om die oorlog se energieskok te absorbeer as tydens die krisis in 2022.
# Die ouditeur-generaal se kantoor sê al het die Suid-Afrikaanse Lugdiens in 2024/2025 ‘n wins aangeteken, is die lugredery finansieel buite beheer en sy syfers onbetroubaar. Volgens die redery het hy in die fiskale jaar tot einde Maart 2025 die tweede agtereenvolgende jaar sedert hy in April 2021 uit sakeredding is, wins getoon. Thato Kunene van die OG se kantoor het aan die parlementêre portefeuljekomitee oor Vervoer gesê die SAL verloor geld deur voorsieningsketting-bestuur en verkrygingspraktyke:
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik, sê City Power se nuwe ses-stap goedkeuringsproses vir sonkraginstallasies veroorsaak onnodige koste, vertragings en verwarring vir inwoners en ondernemings. Volgens die organisasie wend mense hulle tot sonkrag weens onbetroubare elektrisiteitsvoorsiening en stygende tariewe. Die uitvoerende hoof van OUTA, Wayne Duvenage, voer aan bestaande voldoeningsertifikate verseker reeds dat veiligheid en wetlike standaarde nagekom word:
# President Donald Trump van Amerika sê op Pakistan se versoek verleng hy die skietstilstand met Iran tot Teheran ‘n voorstel indien om die konflik permanent te beëindig. Die twee weke lange skietstilstand sou vanaand verstryk. Trump sê in ʼn inskrywing op Truth Social die Iranse regering is erg versplinter, daarom het hulle gevra dat Amerika sy aanvalle staak tot hulle leiers ʼn verenigde voorstel ter tafel lê. Hy sê die blokkade van Iranse hawens sal voortgaan.
# Krieket: ʼn Loopbaan-beste honderdtal van Abhishek Sharma het Sunrisers Hyderabad tot ʼn oorwinning van 47 lopies teen die Delhi Capitals gelei. Dis hul derde agtereenvolgende sege in die Indiese Premierliga. Die 25-jarige Sharma het ʼn onoorwonne 135 van 68 balle behaal, wat die vyfde hoogste telling in IPL-geskiedenis is. Dit het bygedra tot die Sunrisers se telling van 242 vir twee. Kiribathgala Dharmasena het vier paaltjies laat kantel om die Capitals tot 195 vir nege te beperk. Sharma sê hulle vertoning as ʼn span was spesiaal:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-48-sent teen die dollar, 19-rand-35-sent teen die euro en 22-rand-27-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-552-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-763-dollar-23-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 93-dollar-67-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….