Nuus 07:00
BULLETIN 22 April 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Parlement se portefeuljekomitee oor die Polisie eis die skorsing van Fannie Masemola
# Die Spesiale Ondersoekeenheid verkry ‘n bewaringsbevel van 76,5-miljoen-rand
# En rugby: Die Bok-afrigter verwag ‘n moeilike toets teen die Barbarians
# Die parlementêre portefeuljekomitee oor Polisie het president Cyril Ramaphosa gevra om dadelik op te tree en die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, te skors. Hy is amptelik aangekla van die oortreding van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur. Dit hou verband met die beweerde onregmatige toekenning van ‘n kontrak van 360-miljoen-rand aan Medicare24, ʼn maatskappy van Vusimuzi “Cat” Matlala. Die komiteevoorsitter, Ian Cameron, sê die SAPD se geloofwaardigheid mag nie verder in gedrang gebring word nie:
# Die United Africans Transformation het hulle teleurstelling uitgespreek nadat die speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, ‘n mosie oor ‘n ampsklag teen president Cyril Ramaphosa oor die Phala Phala-saak, gestop het. Die party voer aan die besluit verswak toesig, ondermyn openbare vertroue in demokratiese instellings, en verminder aanspreeklikheid. Die woordvoerder van UAT, Mighty Mabule, sê ernstige bewerings van wangedrag deur die uitvoerende gesag moet in ‘n oop proses behoorlik ondersoek word:
# Die Spesiale Ondersoekeenheid het ʼn bewaringsbevel bekom om eiendomme en voertuie van 76,5-miljoen-rand te vries wat aan die sakeman, Siyabonga Moses Goodwill Nkosi, en sy netwerk van trusts behoort. Tussen 2021 en 2023 het amptenare van Kusile- en Matla-kragstasies oordrewe en onregmatige aankoop-orders vir skakelaars om kragstasies aan die gang te hou, goedgekeur. Die ondersoekeenheid sê amptenare het kontrakte afgeteken wat 50-duisend-rand vir skakelaars vra wat op daardie stadium tussen 180- en 450-rand gekos het. Hy sê Nkosi se entiteite het kanale geword om Eskom se verkrygingsgeld wederregtelik na luukse eiendomme te herlei.
# Die DA sê die regering van premier Panyaza Lesufi het die afgelope vyf jaar slegs een nuwe sportfasiliteit in Gauteng gebou. Dit is onthul in ‘n skriftelike antwoord in die provinsiale wetgewer, wat toon slegs die fasiliteit in Carletonville is voltooi. Kingsol Chabalala van die DA het die Provinsiale Departement van Sport, Kuns, Kultuur en Ontspanning gekritiseer vir swak beplanning en die prioritisering van geleenthede bo ontwikkeling:
# President Cyril Ramaphosa gaan vandag die opening van die Senqu-brug in Mokhotlong, Lesotho, waarneem. Hy word vergesel van Lesotho se eerste minister, Samuel Matekane, en koning Letsie die Derde. Die Presidensie sê die inwyding van die brug van 2,4-miljard-rand is ʼn belangrike mylpaal van fase twee van die Lesotho Hoogland-waterprojek. Hy sê die projek verseker die oordrag van water van gehalte na Suid-Afrika; wek hidro-elektrisiteit op vir Lesotho; verskaf water om te drink, vir besproeiing en visvang, en bevorder toerisme.
# Rugby: Die Springbok-afrigter Rassie Erasmus sê hy is opgewonde om die seisoen op 20 Junie in Gqeberha teen die Barbarians af te skop. Die ster-belaaide Barbarian-span word deur die voormalige All Black-afrigter, Scott Robertson, afgerig. Die Springbokke het nog nooit op die Nelson Mandelabaai-stadion verloor nie. Hulle het agt van hul nege toetse gewen en een was gelykop. Erasmus sê die Barbarians sal ʼn behoorlike toets wees omdat hulle na Suid-Afrika kom met ʼn ervare en gerekende span afrigters.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-47-sent teen die dollar, 19-rand-34-sent teen die euro en 22-rand-24-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-206-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-742-dollar-63-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 93-dollar-46-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….