Nuus 16:00
BULLETIN 21 April 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA vra Ramaphosa om die nasionale polisiekommissaris te skors na strafregtelike aanklagte
# Winde en Meyer verwelkom tekens van bestendigheid in die bek-en-klouseer-uitbreking in die Wes-Kaap
# En krieket: Die Protea-vrouespan kan môre reeds die T20-reeks teen Indië beklink
# Die DA het president Cyril Ramaphosa gevra om nasionale polisiekommissaris Fannie Masemola te skors en ‘n amptelike ondersoek te gelas na sy geskiktheid vir die posisie. Hy word strafregtelik vervolg weens ‘n polisietender van 360-miljoen-rand aan Medicare24. Masemola het vanoggend in die Pretoriase Landdroshof verskyn. DA-leier Geordin Hill-Lewis waarsku voortgesette onsekerheid onder polisiebestuur verswak openbare vertroue, en beslissende optrede is nodig om geloofwaardigheid en bestendigheid binne wetstoepassing te herstel.
Die leier van die National Coloured Congress, Faizel Adams, bevraagteken intussen Masemola se gesag in die aanstelling van die KwaZulu-Natalse kommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, op ‘n nasionale taakspan. Adams sê Masemola het dalk die Polisiewet oortree. Hy kritiseer selektiewe optrede teen korrupsie en opper kommer oor toerekenbaarheid in die Polisiediens:
# Die Vereniging van Staatsamptenare sê die Spesiale Ondersoekeenheid moet genoeg vermoë hê om die stryd teen korrupsie, wanadministrasie en onwettige verryking in die openbare sektor te beveg. Woordvoerder Claude Naicker sê die ondersoekeenheid se werk het ingewortelde korrupsie onthul wat dikwels ingewikkelde netwerke, senior amptenare en mense met politieke bande insluit. Hy sê die versterking van die ondersoekeenheid se vermoë sal die spoed en doeltreffendheid van ondersoeke na ernstige korrupsie verbeter:
# Premier Alan Winde en die LUR vir Landbou, Ivan Meyer, verwelkom tekens van bestendigheid in die Wes-Kaap se bek-en-klouseer-uitbreking, met geen nuwe bevestigde gevalle sedert 22 Maart nie. Inenting is steeds sentraal tot die provinsie se beheerstrategie, met meer as 161-duisend dosisse wat op 730 plekke toegedien is. Owerhede sê toesig, bewegingsbeheer en naspeurbaarheids-maatreëls bly van krag. Winde sê ‘n bykomende 50-duisend entstofdosisse word ontplooi, en waarsku dat volgehoue waaksaamheid nodig is om verdere verspreiding te voorkom.
# Krieket: Die Protea-vrouespan kan die T20-reeks teen Indië reeds beklink in môre se derde ontmoeting op die Wanderers in Johannesburg. Die gasvroue het die eerste twee wedstryde in Durban met onderskeidelik ses en agt paaltjies gewen. Die voorlaaste wedstryd word Vrydag op dieselfde veld gespeel, en die laaste wedstryd Maandag in Benoni, Gauteng. Die reeks word gebruik as finale voorbereiding vir die T20-Wêreldbekertoernooi in Engeland wat op 12 Junie begin, met die Proteas se eerste wedstryd teen Australië die volgende dag.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-37-sent teen die dollar, 19-rand-26-sent teen die euro en 22-rand-12-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-392-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-783-dollar-43-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 91-dollar-51-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….