Nuus 15:00
BULLETIN 21 April 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die polisie sê kommissaris Masemola se hofverskyning is ‘n toets vir integriteit
# Die NSRI in Durban sluit aan by ‘n gesamentlike soektog na ‘n verstekeling wat oorboord gaan naby die Durbanse hawe
# En ‘n kenner sê die padwoede-skietvoorval in Emmarentia weerspieël ‘n groter maatskaplike probleem
# Nasionale polisiewoordvoerder Athlenda Mathe sê nasionale kommissaris Fannie Masemola se verskyning in die Pretoriase Landdroshof is ‘n toets vir die diens se integriteit. Hy staan tereg oor ‘n omstrede tender. Mathe sê die saak toets ook aanspreeklikheid en respek vir die oppergesag van die reg. Sy het beklemtoon dat niemand bo die wet verhewe is nie, en bygevoeg dis nou tyd vir besinning, eerlikheid en die herbou van openbare vertroue:
# Die Madlanga-kommissie se getuienisleier, Matthew Chaskalson, het Tshwane se finansiële hoof, Gareth Mnisi, uitgedaag oor moontlike bedrog met ‘n tenderproses. Chaskalson wou weet hoe ‘n aanbeveling gedoen kon word voor die punte-toekenning voltooi is, en beskryf dit as ‘n ernstige teenstrydigheid. Mnisi is beskuldig van ‘n eng begrip van ‘n belangebotsing. Hy hou vol verkrygingsrolle was beperk en sê onherstelbare kwessies sou bedrieglike optrede vereis:
# Die Nasionale Seereddingsinstituut het aangesluit by ‘n gesamentlike soektog nadat ‘n man gister naby Durban se hawe vermis geraak het. Woordvoerder Craig Lambinon sê sewe verstekelinge is volgens berigte oorboord vanaf ‘n houerskip, sowat vyf seemyl van die kus af, met ses wat gered is. Hy sê reddingsvaartuie en stroom-ontleding is ontplooi, en alle skepe het ‘n waarskuwing ontvang. Hy sê die Maritieme Reddingskoördineringsentrum gaan voort met die soektog:
# ‘n Konflik- en geskilspesialis, André Vlok, sê padwoede begin dikwels lank voor ‘n situasie ontvou, aangevuur deur frustrasie, angs en vrees. Hy waarsku swak konflik-oplossingsvaardighede dra by tot ‘n groeiende kultuur van aggressie waar geringe meningsverskille vinnig dodelik kan word. Vlok sê die padwoede-voorval in Emmarentia, Johannesburg, waarin ‘n man doodgeskiet is, weerspieël ‘n groter maatskaplike probleem, nie ‘n enkele geval nie. Hy versoek motoriste om hul emosies te bestuur en situasies te ontlont. Vlok sê klein gebare van kalmte kan help om te voorkom dat ‘n situasie gewelddadig raak.
# Rugby: Die Springbok-agterspeler Ethan Hooker se onmiddellike toekoms is in gedrang nadat hy beseer is tydens ‘n omstrede voorval in die Haaie se Verenigde Rugbykampioenskaps-wedstryd teen Ospreys in Wallis. Luke Morgan het op hom geduik nadat hy ‘n drie gedruk het aan die einde van die eerste helfte. Hooker het nie na rustyd teruggekeer nie, en Morgan is nie gestraf nie. Die Haaie se afrigter, JP Pietersen, het bevestig dat Hooker se skouer verstuit is en sê sy afwesigheid is baie teleurstellend en frustrerend. Die Ospreys het 21-17 gewen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-36-sent teen die dollar, 19-rand-25-sent teen die euro en 22-rand-12-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-500-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-793-dollar-2-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 91-dollar-50-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….