Nuus 14:00
BULLETIN 21 April 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika se sakevertroue daal hoofsaaklik weens die Midde-Oosterse konflik
# Die DA gaan die regulasies vir Openbare Verkryging teenstaan
# En tennis: Alcaraz se deelname aan die Franse Ope is in die weegskaal na ‘n polsbesering
# Die Suid-Afrikaanse Kamer van Koophandel en Nywerheid se Sakevertroue-aanwyser het in Januarie effens gedaal met 1,8- punte tot 131,4, maar in Februarie tot 134,6 verbeter. Verlede maand het die BCI 3,3-punte afgeneem tot 131,3. Die kamer se uitvoerende hoof, Alan Mukoki, sê die daling was hoofsaaklik die gevolg van ‘n swakker rand, laer aandeelpryse op die JSE, en laer wêreldpryse van edelmetale weens die Midde-Oosterse konflik:
# Die DA sê hy sal heftig veg teen die konsep-regulasies vir Openbare Verkryging. Die regulasies bepaal ondernemings wat sake wil doen met die regering, moet toon ‘n beduidende deel van hul vorige verkryging was met ‘n meerderheid ondernemings in swart besit. Die DA sê as openbare verkryging nie hoofsaaklik fokus op waarde vir geld nie, ly arm Suid-Afrikaners die meeste. Hy sê die land benodig wette en regulasies wat die probleme aanpak en nie armoede en ongelykheid vererger nie.
Solidariteit sê intussen sy hofgeding teen die grondwetlikheid van die wet is uiters belangrik vir alle belastingbetalers en diensgebruikers. Woordvoerder Theuns du Buisson sê die wetgewing hou regstreekse gevolge in vir pryse, dienslewering en die land se infrastruktuur:
Nuus uit die buiteland:
# Afrika se grootste lugredery, Ethiopian Airlines, koop ses bykomende Boeing 787-9 Dreamliner-stralers om sy langafstandvlugte oor Afrika en na Amerika, Europa en Asië uit te brei. Groep-uitvoerende hoof Mesfin Tasew het na ‘n ondertekeningseremonie in Boeing se hoofkwartier naby Washington gesê ses keuses is omgeskakel na vaste bestellings nadat hulle vroeër 20 nuwe 787’s bestel het, insluitend nege in Januarie. Tasew het ook met Amerikaanse amptenare die onderneming bespreek om Afrika se grootste lughawe teen 204,7-miljard-rand te bou. Dit sal in 2030 in die dorp Bishoftu voltooi wees.
# Tennis: Die wêreld-nommer-twee, Carlos Alcaraz van Spanje, sê hy gaan eerder sy polsgewrig tyd gee om te genees as om sy titel op die Franse Ope te verdedig. Die sewemalige Grand Slam-kampioen het sy pols vroeër die maand beseer in sy eerste wedstryd op die Barcelona-ope, waarna hy aan die toernooi onttrek het. Alcaraz sê hy wag op die uitslag van mediese toetse wat sal bepaal of hy kan deelneem op Roland Garros, waar hy die tweemalige verdedigende kampioen is. Hy sê hy bly hoopvol en geduldig.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-34-sent teen die dollar, 19-rand-24-sent teen die euro en 22-rand-10-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-553-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-782-dollar-98-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 90-dollar-85-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….