Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 21 April 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met nuus oor die Laureus-toekennings: Die tennis-sterre Carlos Alcaraz van Spanje en Aryna Sabalenka van Belarus is as sportman en sportvrou van die jaar gekroon op die Laureus-toekennings in Madrid. Alcaraz het verlede jaar agt ATP Toer-titels gewen, insluitend twee Grand Slamtoernooie. Sabalenka spog met ‘n tweede Amerikaanse Ope-kroon en vier WTA-titels. Die gholfspeler Rory McIlroy het die Herlewing van die Jaar-toekenning gekry en die Formule Een-renjaer Lando Norris is aangewys as Wêreld-deurbreker van die Jaar. Die sokkerspeler van Barcelona en Spanje, Lamine Yamal, is die Jong Sportman van die Jaar en Paris St-Germain is die Wêreld-span van die Jaar.
Alcaraz sê intussen hy gaan eerder sy polsgewrig tyd gee om te genees as om sy titel op die Franse Ope te verdedig. Die sewemalige Grand Slam-kampioen het sy pols vroeër die maand beseer in sy eerste wedstryd op die Barcelona-ope, waarna hy aan die toernooi onttrek het. Alcaraz sê hy wag op die uitslag van mediese toetse wat sal bepaal of hy kan deelneem op Roland Garros, waar hy die tweemalige verdedigende kampioen is. Hy sê hy bly hoopvol en geduldig.
# Rugby: Die Bulle glo hulle kan steeds ‘n tuis-kwarteindstryd in die Verenigde Rugbykampioenskap beklink. Hulle het na agste plek op die punteleer opgeskuif na Vrydag se bonuspunt-oorwinning van 47-7 oor Dragons in Newport, met nog drie groepwedstryde oor voor die uitspeelrondes. Die eerste vier spanne sal die kwarteindstryde aanbied. Die Bulle het ‘n wegwedstryd teen Scarlets voordat hulle die groepronde tuis afsluit teen die Italiaanse spanne Benetton en Zebre. As spanne hoër op die punteleer verloor, is ‘n kwarteindstryd in Pretoria nie so vergesog nie.
Nog rugbynuus: ‘n Besering het die Junior Springbokke gedwing om ‘n verandering aan te bring aan hul span vir die Onder 20-Rugbykampioenskap wat Maandag in Gqeberha in die Oos-Kaap begin. Die ervare haker Siphosethu Mnebelele het verlede week in Stellenbosch sy enkel beseer en word vervang deur Mahle Sithole. Hoofafrigter Kevin Foote sê dis jammer Mnebelele is beseer, maar dit gee Sithole kans om te wys waartoe hy in staat is. Suid-Afrika se veldtog skop af teen Argentinië, gevolg deur Australië op 3 Mei en Nieu-Seeland op 9 Mei.
# En motorsport: Formule Een se beheerliggaam, die F-I-A, sê hulle het besluit om talle regulasies aan te pas in aanloop tot volgende maand se Miami Grand Prix. Dit is weens renjaers se kommer oor hul veiligheid en sekere elemente van mededinging. Sommige veranderinge sluit in die berging van kinetiese energie en ontplooiings-beperkings om te kwalifiseer, beperkte kragverbruik om draaie om veiligheid te verseker, en veranderings aan die wegspringprosedure. Die F-I-A se president, Mohammed Ben Sulayem, sê die veranderinge is om seker te maak veiligheid en regverdige mededinging word gehandhaaf.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….