Nuus 09:00
BULLETIN 21 April 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Madlanga-kommissie verduidelik sy verhouding met die spesiale ondersoektaakspan
# Minister Kubayi vra vir vinniger hervorming in die regsektor
# En John Ternus neem die leisels oor as Apple se nuwe bestuurshoof met Tim Cook wat na 15 jaar uittree
# Die Madlanga-kommissie van Ondersoek het dit duidelik gestel dat die sogenaamde Madlanga-taakspan nie ‘n arm van die kommissie is nie. Die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, het die spesiale taakspan vir ondersoeke geskep om verwysings in die kommissie se eerste tussentydse verslag op te volg. Dié verslag is in Desember aan President Cyril Ramaphosa voorgelê. Die woordvoerder van die kommissie, Jeremy Michaels, sê hulle wil die punt duidelik stel omdat daar onlangs in die media berig is dat die taakspan sekere mense in hegtenis geneem het:
# Die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, sê hervorming van die regsektor bly belangrik vir die volhoubaarheid van Suid-Afrika se demokrasie. Sy het gister in Pretoria regspraktisyns toegespreek tydens ‘n vergadering met hoëvlak-rolspelers. Dit is deel van voortgesette pogings om samewerking in die regsektor te versterk en hervorming te bevorder. Kubayi sê betekenisvolle hervorming in die regsberoep is nie opsioneel nie, maar ʼn grondwetlike en ekonomiese noodsaaklikheid:
# Die Stad Kaapstad sê opruimingswerk duur voort ná die oorstromings sedert die naweek op plekke weens swaar reën. Nagenoeg 480 klagtes oor oorstromings is oor die naweek ontvang. Gebiede wat die ergste deurgeloop het sluit in Dunoon, Philippi-Oos en Khayelitsha. Die burgemeesterskomiteelid vir Stedelike Mobiliteit , Rob Quintas, sê hoewel baie van die water weggevloei het, bestaan uitdagings steeds waar onwettige strukture toegang tot stormwater-infrastruktuur versper en waar opdrifsels die stelsel verstop:
# Apple se uitvoerende hoof, Tim Cook, tree na 15 jaar af en die senior visepresident van apparatuur, John Ternus, neem by hom oor. Cook het in Maart 1998 by Apple aangesluit en is in Augustus 2011, kort voor die dood van die medestigter Steve Jobs, as uitvoerende hoof aangestel. Onder Cook se leiding het die maatskappy se waarde toegeneem tot meer as 65-duisend-miljard-rand. Hy beskryf die werk as die grootste voorreg van sy lewe. Hy word die uitvoerende voorsitter van Apple se raad van direkteure. Cook sê Ternus is ʼn visioenêr en sal met integriteit en eer lei.
# Krieket: Die Mumbai Indians het na vier nederlae ʼn skitterende oorwinning van 99-lopies oor die Gujarat Titans in die Indiese Premierliga in Ahmedabad behaal. Tilak Varma het briljant gekolf en die beste lopietelling van sy loopbaan behaal met ʼn onoorwonne 101 van 45 balle. Mumbai het 199 vir vyf op die telbord geplaas. Titans kon slegs 100 lopies in 15 boulbeurte en vyf balle aanteken voordat almal uitgehaal is. Ashwani Kumar het vier paaltjies laat kantel. Ná hierdie oorwinning is Mumbai sewende op die Premierliga-ranglys, een plek agter die Titans.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-38-sent teen die dollar, 19-rand-28-sent teen die euro en 22-rand-14-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 74-duisend–686-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-794-dollar-27-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 90-dollar-80-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….