Nuus 07:00
BULLETIN 21 April 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# BLSA sê toerisme bied ‘n geleentheid te midde van wêreldwye onsekerheid
# Die DA sê meer as 150-duisend entstofdosisse word in Gauteng vermis
# En motorsport: F1 bring verskeie regulasieveranderinge aan
# Business Leadership South Africa sê toerisme is ‘n sterk faktor in Suid-Afrika se pogings vir ekonomiese groei en werkskepping. Die sektor het verlede jaar 10,5-miljoen besoekers aangeteken wat nege-persent tot die bruto binnelandse produk bygedra en byna ʼn miljoen werksgeleenthede geskep het. BLSA se uitvoerende hoof, Busiswe Mavuso, sê met die konflik in die Midde-Ooste is Suid-Afrika goed geplaas om toeriste na bestemmings soos Dubai en Katar eerder hierheen te lok. Die tydsone is dieselfde, infrastruktuur is vergelykbaar en die land is polities bestendig. Mavuso sê beperkings soos oponthoude by lughawens kan met volgehoue fokus oorkom word.
# Die ANC sê die minister van Maatskaplike Ontwikkeling, Sisisi Tolashe, kan uit haar amp verwyder word indien bevind word dat sy die kabinet se etiese kode oor onverklaarde motorgeskenke oortree het. Tolashe word daarvan beskuldig dat sy twee voertuie nie verklaar het wat na bewering deur Chinese amptenare vir die party se vroueliga geskenk is en na bewering in haar kinders se name geregistreer is. Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, het aan die media gesê die party wag op ‘n volledige verslag oor die saak:
# Die DA sê die stadige uitrol van bek-en-klouseer-entstowwe in Gauteng plaas vee in gevaar en skep onsekerheid vir boere. Volgens die party is slegs 133-duisend van die meer as 284-duisend beplande dosisse toegedien, terwyl rekenskap van 150-duisend dosisse nog nie gelewer is nie, en meer as 240 aktiewe gevalle aangeteken is. Bronwynn Engelbrecht van die DA waarsku ongeënte diere loop die risiko van infeksie en sal moontlik uitgesit moet word:
# Die Verenigde Koninkryk se eerste minister, Keir Starmer, sê hy sou Peter Mandelson nooit as Britse ambassadeur in Amerika aangestel het as hy geweet het sy keuring-vereistes was onsuksesvol nie. Die 72-jarige Mandelson het volgens berigte mark-sensitiewe regeringsinligting aan die veroordeelde pedofiel, wyle Jeffrey Epstein oorgedra terwyl hy van 2008 tot 2010 ʼn minister was. Starmer het aan die Laerhuis gesê sy oordeel om Mandelson aan te stel, was verkeerd:
# Motorsport: Formule Een se beheerliggaam, die FIA, sê hulle het besluit om talle regulasies aan te pas in aanloop tot volgende maand se Miami Grand Prix. Dit is om renjaers se kommer aan te spreek oor hul veiligheid en sekere elemente van mededinging. Sommige veranderinge sluit in die stoor van kinetiese energie en ontplooiingbeperkings om te kwalifiseer, beperkte kragverbruik om draaie om veiligheid te verseker, en veranderinge aan die wegspringprosedure. FIA-president Mohammed Ben Sulayem sê die veranderinge is om seker te maak veiligheid en regverdige mededinging word gehandhaaf.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-36-sent teen die dollar, 19-rand-27-sent teen die euro en 22-rand-13-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-63-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-813-dollar-93-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 90-dollar-77-sent per vat.
# En ten slotte: President Cyril Ramaphosa sê die legendariese aktrise, model en mode-ikoon, Cynthia Shange, se lewe was ʼn persoonlike triomf en bron van nasionale inspirasie en bewondering. Sy is gister in die vroeë oggendure op 76-jarige leeftyd in ʼn KwaZulu-Natalse hospitaal dood. Shange was die eerste swart vrou wat Suid-Afrika by die Mej. Wêreld-kompetisie verteenwoordig het en het in 1975 die hoofrol gespeel in die land se eerste swart fliek, Udeliwe. Ramaphosa sê Shange sal gemis word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….