Nuus 06:00
BULLETIN 21 April 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Frankryk probeer bande met Suid-Afrika herstel na die terugtrekking van die G7-uitnodiging
# Die ANC gee SAKP-lede ‘n sperdatum om te kies vir watter kant hulle in die verkiesing sal stemme werf
# En rugby: Die Bulle glo hulle kan steeds ‘n VRK-kwarteindstryd op tuisveld beklink
# Frankryk sal na verwagting later vanjaar president Cyril Ramaphosa vir ‘n staatsbesoek uitnooi, na die terugtrekking van sy uitnodiging om die G7-beraad by te woon. Die stap word gesien as ‘n poging om diplomatieke spanning te verlig na berigte dat die uitnodiging as gevolg van druk deur die VSA herroep is. Die woordvoerder vir die Presidensie, Vincent Magwenya, sê egter Ramaphosa sal waarskynlik nie die aanbod aanvaar nie weens ‘n vol program, insluitend voorbereidings vir die plaaslike regeringsverkiesing.
# Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, sê lede van die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party sal tien dae kry om te antwoord of hulle vir die ANC of vir hul party veldtog sal voer. Die SAKP het besluit om onafhanklik, buite die Drieparty-Alliansie, aan die plaaslikeregeringsverkiesing deel te neem. Mbalula sê daar sal gevolge wees vir diegene wat nie binne die tien dae-sperdatum reageer nie:
Intussen sê die ANC die regering het oor die afgelope ses maande sedert die aanvaarding van die plaaslike regering-aksieplan, verskuif van ‘n reaktiewe benadering na geteikende, bewysgebaseerde ingrypings op munisipale vlak. Mbalula, het tydens ‘n inligtingsessie aan die media gesê die fokus is nou op gekoördineerde ingryping eerder as reaktiewe optrede. Hy sê die plan kombineer politieke toesig en tegniese ondersteuning oor verskillende vlakke van regering om diensleweringsuitdagings die hoof te bied:
# Die graderingsagentskap Moody’s het die Stad Johannesburg se kredietgradering op hersiening geplaas vir ‘n moontlike afgradering,as gevolg van kommer oor bestuurs- en likiditeitsrisiko’s. Dit volg na die opskorting van die stad se effekte deur die Johannesburgse Effektebeurs na vertragings met die publikasie van geouditeerde finansiële state. Volgens News24 sê Moody’s die besluit het markvertroue verswak en die stad se vermoë om nuwe skuld te verkry of bestaande verpligtinge te herfinansier, kan beperk word.
# Die Iranse president Masoud Pezeshkian sê sy land het ‘n diep geskiedkundige wantroue in die Amerikaanse regering. Die twee weke lange skietstilstand tussen Teheran en Amerika eindig môre, sonder dat dit moontlik verleng word. Pezeshkian kritiseer wat hy destruktiewe en teenstrydige seine van Amerikaanse amptenare genoem, en sê die nakoming van verpligtinge is die basis van betekenisvolle dialoog. Hy sê oorlog bevoordeel niemand nie, en elke rasionele en diplomatieke roete moet gebruik word om spanning te verminder.
# Rugby: Die Bulle glo hulle kan steeds ‘n tuiswedstryd in die kwarteindronde van die Verenigde Rugbykampioenskap beveilig. Na Vrydag se bonuspunt-oorwinning van 47-7 oor die Dragons in Newport het hulle na die agtste plek op die punteleer geskuif met nog drie groepwedstryde oor voor die uitspeelwedstryde. Die eerste vier spanne sal die kwarteindronde wedstryde aanbied. Die Bulle het ‘n wegwedstryd teen Scarlets voordat hulle die groepronde tuis teen die Italiaanse spanne Benetton en Zebre voltooi. As spanne hoër op die ranglys sou uitval, is ‘n kwarteindstryd in Pretoria nie so vergesog nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-32-sent teen die dollar, 19-rand-25-sent teen die euro en 22-rand-10-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-26-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-831-dollar-18-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 90-dollar-15-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….