Nuus 16:00
BULLETIN 20 April 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Sersant Fanni Nkosi se borgtogbesluit word Woensdag gelewer
# Die Matlala-saak word uitgestel te midde van voortdurende regsvertragings
# En rugby: Nieu-Seeland beplan ‘n reuse-aanslag tydens sy toer in Suid-Afrika
# Die Landdroshof in Pretoria-Noord gaan Woensdag uitspraak lewer oor die geskorste polisiesersant Fanni Nkosi se aansoek om borgtog. Hy staan tereg op aanklagte van onder meer regsverydeling. Staatsaanklaer Tholoana Sekhonyana sê Nkosi se beweerde sentrale rolle tussen misdaadsindikate en senior polisiebestuur maak van hom ‘n vlugrisiko. Sy sê hy het dossiere onregmatig hanteer, met ondersoeke ingemeng en kan getuies intimideer sowel as bewyse manipuleer:
# Die Landdroshof in Pretoria het opdrag gegee die omstrede sakeman Vusimusi ‘Cat’ Matlala moet in die Kgosi Mampuru Korrektiewe Sentrum aanbly. Hy en sy medebeskuldigdes staan tereg op 25 aanklagte, insluitend geldwassery en poging tot moord. Verrigtinge is uitgestel om die staat toe te laat om te reageer op voorleggings deur die verdediging. Aanklaers hersien nou nuwe voorleggings, terwyl die verdediging aanvoer sleuteldokumente is nie bekendgemaak nie, wat die vordering na ‘n voorverhoor vertraag. Die saak word op 13 Mei hervat.
# Die werwingsonderneming Job Crystal sê stygende brandstof- en elektrisiteitskoste lei tot dringende oproepe vir werksplek-buigsaamheid in Suid-Afrika. Kenners het aan IOL gesê stygende brandstofpryse plaas swaar finansiële druk op werknemers, wat die debat oor afstandswerk opnuut aanwakker. Uitvoerende hoof Sasha Knott sê pendelkoste word onvolhoubaar, terwyl Neil Roets van Debt Rescue waarsku oor toenemende huishoudelike finansiële druk. Ontleders sê hoewel die regering ‘n tydelike brandstofheffing-verligting ingestel het, is meer ondersteuning nodig namate ondernemings beleide heroorweeg om werkers tydens die krisis te ondersteun.
# Motoriste word ingelig die R531-2 Orpenweg, wat gebiede om die Krugerwildtuin verbind, is heeltemal gesluit nadat ‘n deel van die pad naby Wits se landelike aanleg ingestort het. Verkeer vanaf Mpumalanga word na die R40, rigting Hoedspruit herlei en verkeer vanaf die Krugerwildtuin na Phalaborwa in Limpopo. Woordvoerder Mashudu Mabata sê die gedeelte van die pad is onveilig en vra padgebruikers om voorsiening te maak vir bykomende reistyd:
# Rugby: Nieu-Seeland beplan ‘n reuse-aanslag tydens vanjaar se toer in Suid-Afrika, wat in Augustus afskop. Die spelersgroep kan tot 80 wees. Die All Blacks speel drie toetse teen die Springbokke in Suid-Afrika, en nog een in Amerika. Die besoekers sal ook wedstryde teen die Stormers, die Haaie, die Bulle en die Leeus speel. Nieu-Seeland se afrigter, Dave Rennie, het glo ‘n unieke uitdaging voor die toer, want hy het nog klubverpligtinge in Japan tot vroeg in Junie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-34-sent teen die dollar, 19-rand-22-sent teen die euro en 22-rand-7-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 75-duisend-441-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-807-dollar-66-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 91-dollar-12-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….