Nuus 14:00
BULLETIN 20 April 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Byna 300-duisend onderwysers is nog nie teen die Nasionale Seksoortredersregister nagegaan nie
# ‘n Tsoenami-waarskuwing word in Japan uitgereik na ‘n hewige aardbewing in die see
# En tennis: Sinner bevestig sy deelname in Madrid nadat Alcaraz en Djokovic onttrek
# Byna 300-duisend onderwysers is volgens berigte nog nie teen die Nasionale Seksoortredersregister nagegaan nie, wat ernstige kommer laat ontstaan oor beskerming in skole. Die woordvoerder van die Departement van Justisie, Samuel Midpane, sê die agterstand het kommer veroorsaak onder belanghebbendes in onderwys en maatskaplike geregtigheid, wat waarsku dat onvolledige siftingsprosesse leerders aan potensiële risiko’s kan blootstel. Basil Manuels van onderwysersvakbond Naptosa vra dringende optrede om die klaringsgaping op te klaar en nakomingstelsels binne die onderwyssektor te versterk.
# Tshwane se finansiële hoof, Gareth Mnisi, ontken dat hy met die geskorste sersant van die polisie se georganiseerde misdaadeenheid, Fannie Nkosi, saamgewerk het. Hy het aan die Madlanga-kommissie gesê hy is geïrriteerd deur Nkosi se volgehoue boodskappe oor die nagaan van tendervereistes. Die kommissarisse het aangevoer dat sy antwoorde verdere kommunikasie aangemoedig het. Mnisi hou vol dat hy dit duidelik gemaak het dat hy nie kon help nie:
# Die GOOD-party is bekommerd oor die Stad Kaapstad se aanwending van geleende fondse, terwyl inwoners steeds sonder basiese dienste is, in weerwil van bewerings van grootskaalse beleggings in infrastruktuur. Dit hou verband met ‘n belegging van 9,7-miljard-rand wat in 2024 aangekondig is. Woordvoerder Suzette Little sê die bedrag is voorgelê as bewys van die vordering met sanitasie, vervoer, water en energie, maar geen besonderhede is verskaf van die uitgawes nie:
Nuus uit die buiteland:
# ‘n Tsoenami is sowat 50-kilometer van die Japannese kus waargeneem na ‘n kragtige aardbewing noordoos van die land. Eerste minister Sanae Takaichi het mense in die betrokke gebiede aangespoor om na hoërliggende gebiede te ontruim. Die openbare uitsaaier, NHK, berig die aardbewing het op ‘n diepte van 10-kilometer voorgekom en is gevoel in die hoofstad, Tokio, honderde kilometer van die middelpunt. Japan se Meteorologiese Agentskap waarsku ‘n groter tsoenami kan die kus tref ná die eerste golf. Tsoenami-waarskuwings is in dele van Hokkaido en Iwate uitgereik.
# Tennis: Die wêreld-nommer-een, Jannik Sinner van Italië, gaan deelneem aan dié week se Madridse Ope in Spanje waar hy gaan probeer om geskiedenis te maak as die eerste speler om vyf agtereenvolgende Meesters-een-duisend-titels te beklink. Dit volg op sy oorwinnings in Parys verlede jaar en Indian Wells, Miami en Monte-Carlo vanjaar. Sinner is die volslae gunsteling in die afwesigheid van die plaaslike held Carlos Alcaraz en die driemalige kampioen, Novak Djokovic van Serwië. Die toernooi is voorbereiding vir die Franse Ope wat op 24 Mei in Parys begin.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-36-sent teen die dollar, 19-rand-25-sent teen die euro en 22-rand-11-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 75-duisend-367-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-798-dollar-80-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 90-dollar-79-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….