Nuus 13:00
BULLETIN 20 April 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Andrew Whitfield en Glynnis Breytenbach is die moontlike voorlopers om die DA in die Parlement te lei
# Minister Gwarube verleng die kommentaar-tydperk op die wysigings aan die Geskiedenis-leerplan
# En rugby: Die Blitsbokke se afrigter loof die spelers se ingesteldheid ná hul oorwinning in Hongkong
# Andrew Whitfield en Glynnis Breytenbach is volgens berigte die moontlike voorlopers in die wedloop om die DA se parlementêre koukusleier te word. Die nuutverkose partyleier, Geordin Hill-Lewis, gaan aanbly as Kaapstadse burgemeester. Die DA het nie nodig gehad om ‘n aparte parlementêre leier te kies sedert Helen Zille partyleier en die Moederstad se burgemeester was, en toe Wes-Kaapse premier geword het nie. Die DA se 99 lede in die Nasionale Vergadering en die Nasionale Raad van Provinsies mag moontlike kandidate benoem om die parlementêre koukus te lei.
# Die regsverteenwoordiger van sersant Fannie Nkosi van die Gautengse eenheid vir georganiseerde misdaad voer aan dat borgtog ‘n grondwetlike reg is. Nkosi staan tereg op aanklagte van diefstal, die besit van ongelisensieerde ammunisie en handgranate, en regsverydeling. Advokaat Siza Dlali het in die Landdroshof in Pretoria-Noord gesê daar behoort geen veronderstelde uitspraak te wees tydens borgtogaansoek‑prosesse nie. Hy vra die hof om op grondwetlike regte te fokus:
# Die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, het die tydperk om kommentaar te lewer oor die konsep-Geskiedenisleerplan en beoordelings-beleidsverklarings vir grade 4 tot 12 met 30-dae verleng weens openbare belangstelling. Die wysigings het begin met die werk van die ministeriële taakspan vir Geskiedenis wat oudminister Angie Motshekga in 2015 aangestel het. Woordvoerder Terrence Khala sê die openbare belangstelling wys daar is geen vooropgestelde uitkomste vir die proses nie:
# Opruimingsoperasies gaan voort in verskeie gebiede in die Wes-Kaap ná die naweek se oorstromings. Nood- en munisipale spanne ruim die puin op, bepaal die skade en bied verligting aan inwoners. Gift of the Givers se woordvoerder, Ali Sablay, sê die fokus is op die herstel van toegang, sanitasie en noodsaaklike dienste terwyl verdere weergevare dopgehou word. Hy sê gemeenskappe in laagliggende en hoërisikogebiede is die hardste getref, met ontwortelde inwoners in informele nedersettings wat tydelike hulp ontvang terwyl die herstelpogings voortduur.
# Rugby: Die Blitsbokke se afrigter, Philip Snyman, het sy spelers se geestelike ingesteldheid geprys nadat hulle die Hongkongse Sewes-titel die eerste keer in die toernooi se 50-jarige geskiedenis beklink het. Die Bokke was teen die toue in die kwarteindstryd teen Kenia na ‘n onindrukwekkende groepfase, maar het twee drieë in die laaste minuut gedruk om te wen. Dit is gevolg deur oortuigende seges oor die All Blacks en Argentinië om tot kampioen gekroon te word. Snyman sê daar is ‘n groot gevoel van trots en dankbaarheid in die groep.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-39-sent teen die dollar, 19-rand-28-sent teen die euro en 22-rand-13-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 75-duisend-107-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-793-dollar-94-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 91-dollar-46-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….