Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 20 April 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met rugby: Die Blitsbokke se afrigter, Philip Snyman, het sy spelers se geestelike ingesteldheid geprys nadat hulle die Hongkongse Sewes-titel die eerste keer in die toernooi se 50-jarige geskiedenis beklink het. Die Bokke was teen die toue in die kwarteindstryd teen Kenia na ‘n onindrukwekkende groepfase, maar het twee drieë in die laaste minuut gedruk om te wen. Dit is gevolg deur oortuigende seges oor die All Blacks en Argentinië om tot kampioen gekroon te word. Snyman sê daar is ‘n groot gevoel van trots en dankbaarheid in die groep.
Die afrigter van die Springbok Vroue-sewesspan, Cecil Afrika, sê intussen heelwat lesse kan geleer word uit hul vertonings in Hongkong in die eerste van drie Wêreldkampioenskaps-toernooie. Die vroue het in hulle groepswedstryde teen Australië en Kandada verloor en vir Groot-Brittanje geklop. Hul het daarna teen die Britte vasgeval in die uitspeelstryd om negende plek en 12de geëindig toe hulle teen Argentinië verloor het. Afrika sê baie harde werk lê voor vir die toernooie in Spanje en Frankryk in Mei en Junie.
# Krieket: Die Protea-vroue het Indië met agt paaltjies verslaan in die tweede T20 in Durban en loop 2-0 voor in die reeks van vyf wedstryde. Tumi Sekhukhune en Chloé Tryon het elk drie paaltjies platgetrek en die besoekers help uitboul vir 147. Daarna het kaptein Laura Wolvaardt en Suné Luus ‘n aanvangsvennootskap van 106 opgebou en Suid-Afrika het die teiken bereik met 17 balle oor. Die derde en vierde kragmetings word Woensdag en Saterdag op die Wanderers gespeel en die laaste een volgende Maandag in Benoni.
# Gholf: Agathe Laisne van Frankryk het ‘n dramatiese vyfputjie-uitspeelronde teen die Australiër Kirsten Rudgeley gewen en die Johannesburgse Vroue Ope op die Randpark-gholfklub opgeraap. Die twee was na 72 putjies saam met die Suid-Afrikaner, Casandra Alexander, gelyk op 19-onder baansyfer, en moes na die 18de putjie terugkeer vir ʼn uitspeelronde. Alexander is op die eerste putjie uitgeskakel. Laisne het met ʼn voëltjie op die laaste uitspeelputjie gewen en haar tweede Vroue Europese Toer-titel van die seisoen gebuit.
# En tennis: Die wêreld-nommer-een, Jannik Sinner van Italië, gaan deelneem aan dié week se Madridse Ope in Spanje waar hy gaan probeer om geskiedenis te maak as die eerste speler om vyf agtereenvolgende Meesters-een-duisend-titels te beklink. Dit volg op sy oorwinnings in Parys verlede jaar en Indian Wells, Miami en Monte-Carlo vanjaar. Sinner is die volslae gunsteling in die afwesigheid van die plaaslike held Carlos Alcaraz en die driemalige kampioen, Novak Djokovic van Serwië. Die toernooi is voorbereiding vir die Franse Ope wat op 24 Mei in Parys begin.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….