Nuus 11:00
BULLETIN 20 April 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa vra landsburgers om hulle weer tot die versterking van die land se demokrasie te verbind
# Iran verwerp glo ‘n tweede ronde samesprekings met Amerika
# En rugby: Die Bok-vrouesewespan se afrigter sê hulle kan baie leer uit Hongkong
# President Cyril Ramaphosa sê die Suid-Afrikaanse samelewing bly gegrond op ‘n kultuur van menseregte, die oppergesag van die reg en die uitdrukking van mense se wil deur gereelde verkiesings. Hy het die naweek in Spanje deelgeneem aan die vierde vergadering van ‘n veldtog om demokrasie te verdedig. Ramaphosa sê in sy weeklikse nuusbrief demokrasie word op baie plekke bedreig en die beginsels van eendragtigheid, samewerking en vriendskap word uitgedaag. Hy sê wanneer Suid-Afrika volgende week Vryheidsdag vier, moet landsburgers hulle weer verbind tot die verdediging en versterking van die land se demokrasie.
# Die minister van Vroue, die Jeug en Persone met Gestremdhede, Sindisiwe Chikunga, vra verskerpte en gekoördineerde pogings in alle sektore om die voortslepende jeugwerkloosheid teen te werk. Volgens die jongste kwartaallikse arbeidsmag-opname vir die vierde kwartaal van 2025, staan werkloosheid onder die jeug op 43,8-persent. Die departement se woordvoerder, Cassius Selala, sê sterker vennootskappe tussen die regering en die privaat sektor is nodig:
# Die DA in Gauteng sê Ekurhuleni se burgemeester, Nkosindiphile Xhakaza, moet die stadsbestuurder, Kagiso Lerutla, onmiddellik skors. Dit volg na hy gister aangekeer is op aanklagte van bedrog, korrupsie en regsverydeling. Lerutla verskyn vandag in die hof saam met die geskorste waarnemende hoofkommissaris van die Ekurhuleni-metropolisiedepartement, Julius Mkhwanazi. Khathutshelo Rasilingwane van die DA sê Lerutla se inhegtenisneming wys hoe verrot Ekurhuleni se veelparty-koalisie is:
Nuus uit die buiteland:
# Iran het volgens berigte ʼn tweede ronde vredesamesprekings met Amerika verwerp. Dit sou vandag in Islamabad, Pakistan, plaasvind. Hulle sê Amerika se eise is buitensporig, hul verwagtinge onrealisties, hulle standpunt verander gedurig en die voortgesette vloot-blokkade is ʼn verbreking van die skietstilstand. Dit volg nadat die Withuis bevestig het dat visepresident JD Vance nog ʼn afvaardiging sal lei in ʼn tweede ronde samesprekings. Iran sê Amerika se dreigende houding belemmer die onderhandelings se vordering. Die skietstilstand van twee weke tussen die twee lande verstryk Woensdag.
# Rugby: Die afrigter van die Springbok Vroue-sewesspan, Cecil Afrika, sê heelwat lesse kan geleer word uit hul vertonings in Hongkong in die eerste van drie Wêreldkampioenskaps-toernooie. Die span het in hulle groepswedstryde teen Australië en Kandada verloor en vir Groot-Brittanje geklop. Hull het daarna teen die Britte vasgeval in die uitspeelstryd om negende plek en 12de geëindig toe hulle teen Argentinië verloor het. Afrika sê baie harde werk lê voor vir die toernooie in Spanje en Frankryk in Mei en Junie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-34-sent teen die dollar, 19-rand-22-sent teen die euro en 22-rand-7-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 74-duisend-803-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-795-dollar-12-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 91-dollar-6-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….