Nuus 06:00
BULLETIN 20 April 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die geskorste polisiekommissaris van Mpumalanga beskuldig Fannie Masemola van omkopery
# Die DA sê die polisie het die sperdatum vir die bekendstelling van lyfkameras gemis
# En rugby: Die Blitsbokke klop Argentinië om hul eerste Hongkong-titel te verower
# Die geskorste polisiekommissaris van Mpumalanga, Daphney Manamela, het die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, en die afgetrede provinsiale adjunkpolisiekommissaris, Bototso Moukangwe, beskuldig dat hulle vyf-miljoen-rand van die sokker-administrateur en sakeman, Bobby Motaung, ontvang het. Dit was na bewering sodat Manamela nie terugkeer werk toe nie. Sy is sedert 2023 verskeie kere geskors. Sy beweer die betaling hou verband met pogings in die hantering van die Mbombela-fluitjieblasermoordsaak waarby Jacky Mohlala in 2009 betrokke was:
# Die DA sê die polisie het hulle daartoe verbind om teen April verlede jaar lyfkameras in te stel, maar ‘n jaar later het die sperdatum verstryk sonder instelling of ‘n verduideliking. Die party het die mislukking om die stelsel te in te stel veroordeel te midde van die Suid-Afrikaanse polisie se groeiende verantwoordbaarheidskrisis. Mzamo Billy van die DA sê sonder objektiewe, intydse bewyse word ondersoeke verswak, sake stort in duie en vervolgings misluk. Hy voeg by dit stel eerlike polisiebeamptes bloot aan valse beskuldigings.
# Die Kongres van Tradisionele Leiers is bekommerd oor die vonnisoplegging van EFF-leier Julius Malema en bevraagteken die billikheid daarvan. Malema is deur die Streekshof in KuGompo-Stad in die Oos-Kaap tot ‘n effektiewe tronkstraf van vyf jaar gevonnis vir die afvuur van ‘n vuurwapen in die openbaar tydens ‘n saamtrek in 2018. Hy is verlof toegestaan om teen die vonnis te appelleer. Contralesa se president, Kgoshi Mathupa Mokoena, het aan SABC News gesê baie mense vuur skote in die lug af tydens begrafnisse en ander aktiwiteite of geleenthede, maar niemand is in hegtenis geneem nie.
# Die Gautengse Departement van Gesondheid het met kommer kennis geneem van ‘n skerp styging in malariagevalle en verwante sterftes regoor die provinsie. Kealeboga Mohajane van die departement sê onlangse waarnemings dui op ‘n kommerwekkende styging in beide malaria-infeksies en sterftes. Sy sê tussen Januarie en Desember 2025 is 666 malariagevalle en sewe sterftes aangemeld. Sy voeg by die Departement het tussen Januarie en Maart vanjaar reeds 414 bevestigde gevalle en elf sterftes regoor die provinsie aangeteken:
# Iranse president Masoud Pezeshkian sê VSA president Donald Trump het geen regverdiging om Iran van sy kernregte te ontneem nie. Dit kom terwyl Washington en Teheran steeds meningsverskille oor kernkwessies in die gesig staar. Pezeshkian word aangehaal waar hy sê dat Trump gesê het Iran mag nie van sy kernregte gebruik maak nie, maar hy het nie gesê vir watter misdaad nie. Die Iranse president het gevra wie geen Trump die reg om hom van sy kernregte te ontneem. Geen datum is nog vasgestel vir die volgende ronde onderhandelinge tussen Iran en die VSA nie.
# Rugby: Die Springbok-sewes het Argentinië met 35-7 verslaan om hul eerste titel ooit in Hongkong te verower in die eerste been van vanjaar se Wêreldkampioenskapreeks van drie toernooie. Die Blitsbokke het vyf drieë teen een gedruk. Dit is Suid-Afrika se vierde agtereenvolgende titel, met die vorige drie in Perth, Vancouver en New York. Die afrigter Philip Snyman sê hy is trots op hoe hulle herstel het van hul nederlaag teen Spanje:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-38-sent teen die dollar, 19-rand-24-sent teen die euro en 22-rand-10-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 74-duisend-97-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-782-dollar-40-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 88-dollar-53-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….