Nuus 08:00
BULLETIN 19 April 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Cyril Ramaphosa vra vir hervorming van die Internasionale Monetêre Fonds en die Wêreldbank
# Die Spesiale Ondersoekeenheid bekom ‘n bevel om R16-miljoen rand van ‘n direkteur se bates te bevries in ‘n TERS-bedrogsaak
# Die gure weer in groot dele van die land sal moontlik tot Dinsdag voortduur
# President Cyril Ramaphosa vra vir die hervorming van die Internasionale Monetêre Fonds en die Wêreldbank en dat hulle nie net Westerse belange moet verteenwoordig nie. Ramaphosa het die Globale Progressiewe Mobiliseringsitting in Barcelona, Spanje, toegespreek tydens ‘n werksbesoek aan die land. Hy sê die twee instellings moet die skuldlas aanspreek wat baie ontwikkelende ekonomieë terughou, die finansiële argitektuur hervorm en die finansieringsgaping vir ontwikkeling uitwis:
# Ramaphosa meen ookdie wette en norme wat lank die verhoudings tussen nasies bepaal het, word opsetlik oortree. Hy sê globale regeringsinstellings word ondermyn of kwaadwillig heraangewend. Hy voeg by die beginsels van solidariteit, samewerking en vriendskap word uitgedaag deur die herlewing van eng nasionalisme, vooroordeel en onverdraagsaamheid:
# Die Spesiale Ondersoekeenheid het ‘n bevel van die Spesiale Tribunaal bekom om die bates van Nhlakanipho Mngomezulu te bevries oor die onwettige ontvangs van 16,3-miljoen-rand van die Werkloosheidsversekeringsfonds se tydelike Covid-19 hulpverleningsfonds. Die SOE se woordvoerder Selby Makgotho sê dit volg op die eenheid se ondersoek na Lubelo Hlomuka Holdings, wat handeldryf as SA Scrum Assembly en waarvan Mngomezulu die direkteur is. Makgotho sê hy en sy maatskappy het tussen 2020 en ’22 vier eiendomme gekoop met die geld, meestal in Pietermaritzburg, KwaZulu-Natal.
En nou sportnuus:
# Rugby: Die Stormers het op ‘n emosioneel-belaaide dag na die dood van hul jarelange spanbestuurder, Chippie Solomon, ‘n rustyd-voorsprong van 10-7 verspeel en uiteindelik met 33-24 teen Connacht in Kaapstad verloor. Ondanks drieë deur Evan Roos, Ntuthuko Mchunu en Sacha Feinberg-Mngomezulu, het die gasheer se vele foute die Ierse span laat in die wedstryd die oorhand gegee. Danksy vyf drieë, waaronder ‘n laat een deur Sean Naughton, het aan Connacht hul eerste oorwinning ooit in Kaapstad besorg. Die Stormers se hoop om boaan die VRK-punteleer te eindig, is daarmee ‘n knou toegedien.
# Krieket: Die Proteas en Indië se vroue pak mekaar vandag in die tweede van vyf T20-wedstryde in Durban nadat die gasvroue Vrydag se eerste ontmoeting op dieselfde veld met ses paaltjies gewen het. Die besoekers is beperk tot 157 vir sewe nadat Ayabonga Khaka drie paaltjies geneem het. Suid-Afrika het die teiken in die laaste boulbeurt bereik nadat kaptein Laura Wolvaardt 51 lopies bygedra het, en Annerie Dercksen ‘n onoorwonne 44. Die volgende twee wedstryde word in Johannesburg gespeel, en die laaste een volgende Maandag in Benoni.
# En ten slotte, die Suid-Afrikaanse Weerdiens sê die ongunstige weerstoestande in sommige dele van die land sal waarskynlik tot Dinsdag voortduur. Die weerdiens het ‘n geel vlak 2-waarskuwing uitgereik vir erge donderstorms, koue, nat en winderige weerstoestande in groot dele van die land. Weervoorspeller Tokelo Chiloane sê maksimum dagtemperature sal na verwagting aansienlik daal, met sommige hoogliggende gebiede in die westelike binneland en aangrensende streke wat moontlik dagtemperature van tussen tien en 12 grade Celsius sal ervaar:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….