Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 29 Januarie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Kommissie vind geen verband tussen die onrus van Julie 2021 en Zuma se tronkstraf nie
# LUR Chiloane verwag binne sewe dae ‘n volledige ondersoek na ‘n graad 7-leerder se verdrinking
# En, sokker: Bafana wil ‘n opskudding by Afcon veroorsaak teen die gerekende Marokko
# Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie sê dis onduidelik wat die bedoeling agter die onluste van Julie 2021 was, maar hy kon nie ‘n skakel vind met oudpresident Jacob Zuma se gevangenisskap nie. Die kommissie het sy verslag bekend gemaak oor die geweld en plundering, veral in KwaZulu-Natal en Gauteng. Meer as 350 mense is dood en skade is op 50-miljard-rand geraam. Die geweld het uitgebreek slegs ‘n dag nadat Zuma sy vonnis vir minagting van die hof begin uitdien het. Kommissaris Philile Ntuli sê intelligensie-insameling moet verbeter:
# Die Gautengse Departement van Onderwys het Nchupetsang-prokureurs aangestel om ‘n onafhanklike ondersoek te doen na die omstandighede rondom die verdrinking van ‘n graad 7-leerder, Latoya Temilton. Latoya is verlede Saterdag dood tydens ‘n eendag-uitstappie na die Wag ‘n Bietjie-kampterrein, gereël deur Laerskool Queenswood in Pretoria. Die LUR vir Onderwys, Matome Chiloane, sê die ondersoek het ten doel om ‘n omvattende verslag, met bevindings en aanbevelings, binne sewe dae te verskaf. Hy het beklemtoon diegene wat vir die tragedie verantwoordelik is, sal aanspreeklik gehou word.
# Die Grensbestuursowerheid het planne bekendgemaak om Eenstop-grensposte met buurlande op te rig. Kommissaris Mike Masiapato het aan die media gesê dit sal ‘n oplossing bied vir migrasie en sal die doeltreffendheid by grensposte vir mense en goedere verbeter. Masiapato benadruk die plan sal Suid-Afrika en sy buurlande op dieselfde voet kry en grens-oortogte vaartbelyn maak:
# Die Ekonomiese Gemeenskap van Wes-Afrika-lande sê hy is gereed vir ‘n onderhandelde skikking na Burkina Faso, Mali en Niger se aankondiging dat hulle die streeks-groepering verlaat. Volgens ECOWAS is hy verbind om ‘n onderhandelde skikking vir die politieke dooiepunt te bereik. Die leiers van Burkina Faso, Mali en Niger sê hulle besluit om ECOWAS te verlaat is onafhanklik geneem. Die verhouding tussen die groepering en die drie lande is gespanne weens militêre staatsgrepe in die gebied.
# Sokker: Bafana Bafana speel môreaand teen Marokko, in die laaste wedstryd van die ronde van 16 op die Afrikabeker-toernooi. Albei die lande het die toernooi nog net een keer gewen – Marokko in 1976, terwyl Suid-Afrika koning gekraai het in 1996. Marokko is die topgekeurde span in Afrika, wat Bafana se paadjie moeilik maak. Maar afrigter Hugo Broos glo sy span kan vir ‘n opskudding sorg:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-77-sent teen die dollar, 20-rand-30-sent teen die euro en 23-rand-82-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 42-duisend-en-47-dollar-88-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-28-dollar-51-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-98-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….