Nuus 08:00
BULLETIN 18 April 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Presidensiële gesant glo Meyer sal die feite stel
# ‘n Verdagte in ‘n massa-skietvoorval in Rabie Ridge neem glo sy eie lewe
# En tennis: ’n Besering dwing Djokovic uit die Madridse Ope
# Die presidensiële gesant, Alistair Ruiters, glo Suid-Afrika se nuwe ambassadeur in Amerika, Roelf Meyer, sal regsgesinde groepe se bewerings uitdaag dat hulle Afrikaners verteenwoordig. Die voormalige minister het wye diplomatieke en politieke ervaring. Ruiters sê Meyer se aanstelling sal baie help om sake reg te stel. Hy sê daar was ‘n leemte in Washington waar regsgesindes met die Amerikaanse Departement van Buitelandse Sake in gesprek was. Ruiters sê Meyer ken Washington en sy gerespekteerde reputasie sal help om die gespanne bande tussen die lande te herstel.
# Die Gautengse polisie sê ‘n verdagte in ‘n skietvoorval in Rabie Ridge, Tembisa, waarin drie mense dood is, het na bewering homself doodgeskiet. Woordvoerder Dimakatso Nevhuhulwi sê hy het ‘n rusie met sy meisie gehad en haar geskiet voor hy nog twee mense in die huis geskiet het. Sy sê die polisie het op die toneel ook onder skoot gekom, terwyl nog twee vroue gewond is:
# Die minister van Landbou, John Steenhuisen, het 27 eksterne tegniese raadgewers aangestel om die departement te ondersteun. Dit is om ‘n doeltreffende en vinniger omkeertyd te verseker vir hoë-volume aansoeke wat deur die Registrateur van die Wet op Kunsmis, Veevoer, Landboumiddels en Veemiddels ontvang word. Steenhuisen sê die departement is verantwoordelik om toesig te hou dat landbou-insette soos kunsmis, dierevoer, plaagdoders, veemiddels en landboumiddels doeltreffend is en geringe gevaar inhou vir mense se gesondheid en die omgewing voordat dit in Suid-Afrika ingevoer, verkoop of gebruik kan word.
# Die DA sê tugstappe vorder nie teen senior amptenare van die Departement van Gesondheid wat in hegtenis geneem is in verband met beweerde korrupsie oor die Bulkeng-suurstofaanleg-tender van 428-miljoen-rand. Die party beweer direkteur-generaal Sandile Buthelezi, adjunkdirekteur-generaal Percy Mahlati en finansiële hoof Phaswa Mamogale wat geskors is, ontvang steeds miljoene-rand in salarisse. Michéle Clarke van die DA sê daar is geen duidelike tydlyn vir hul dissiplinêre verhore nie:
Nuus uit die buiteland:
# Iran se minister van Buitelandse Sake, Abbas Araqchi, sê die Seestraat van Hormoes is oop na ‘n wapenstilstandooreenkoms in Libanon bereik is, terwyl die Amerikaanse president, Donald Trump, sê hy glo ‘n ooreenkoms sal binnekort bereik word om die Iranse oorlog te beëindig. Araqchi het op X gesê die roete is oop vir alle handelskepe vir die res van die wapenstilstand van tien dae tussen Israeliese magte en Irans-gesteunde Hizbollah. Hy sê skepe sal beweeg langs ‘n roete wat deur Iran se Hawe- en Maritieme-organisasie bepaal is.
# En tennis: ‘n Besering het die driemalige kampioen, Novak Djokovic, gedwing om te onttrek aan volgende week se Madridse Ope in die Spaanse hoofstad. Die 38-jarige Serwiër het nog nie weer aan die ATP-toer deelgeneem sedert hy op Indian Wells uitgeskakel is nie. Hy het weens ‘n skouerbesering aan die Miami-ope onttrek en ook verlede week se Monte-Carlo-meesterstoernooi misgeloop. Die wêreld-nommer-vier sê hy gaan voort met sy herstelpad en hoop om binnekort terug te wees. Die kleibaantoernooi word gebruik as voorbereiding vir die Franse Ope wat op 24 Mei begin.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….