Nuus 16:00
BULLETIN 17 April 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Robert Mugabe se seun en sy medebeskuldigde pleit skuldig op verskeie aanklagte ná ‘n skietvoorval in Hydepark
# Die Nasionale Vervolgingsgesag sê Julius Malema se dreigemente teen aanklaers sal gevolge hê
# En borgtog vir Australië se mees vereerde soldaat wat van oorlogsmisdade aangekla word
# Die voormalige Zimbabwiese president Robert Mugabe se seun, Bellarmine, en sy medebeskuldigde, Tobias Matonhodze, het skuldig gepleit op verskeie aanklagte in die Streekhof in Alexandra, Gauteng. Mugabe het skuldig gepleit op aanklag van die rig van ‘n vuurwapen en die oortreding van immigrasiewette. Matonhodze het skuldig gepleit aan poging tot moord, regsverydeling, onwettige immigrasie en die besit van ammunisie. Die saak volg op ‘n skietvoorval by ‘n woning in Hydepark, Johannesburg, in Februarie waarin ‘n werknemer gewond is. Die saak is uitgestel tot volgende Vrydag.
# Die Nasionale Vervolgingsgesag veroordeel die EFF-leier, Julius Malema, se dreigemente teen ‘n staatsaanklaer na sy vonnis-oplegging. Die NVG sê die kommentaar, wat op sosiale media geplaas is, kom neer op intimidasie en ondermyn die oppergesag van die reg, en waarsku dat aanklaers toegelaat moet word om hul pligte sonder vrees uit te voer. Kaizer Kganyago van die NVG moedig die publiek aan om enige intimidasie teen wetstoepassingsowerhede aan te meld:
# Die Wes-Kaapse LUR vir Landbou, Ekonomiese Ontwikkeling en Toerisme, Ivan Meyer, sê die provinsiale regering versterk sy posisie as leier in volhoubare en nis-toerisme. Dit volg op die graduering van ‘n nuwe groep sterrekyk-toergidse. Die sektor het in 2023 sowat 28,6-miljard-rand bygedra en meer as 257-duisend werksgeleenthede ondersteun. Meyer sê hierdie gegradueerdes help die provinsie se toerismestrategie om te verskuif van een wat op volume gegrond is na een wat op waarde en volhoubaarheid fokus:
Nuus uit die buiteland:
# Australië se mees vereerde lewende soldaat, Ben Roberts-Smith, het borgtog gekry. Die 47-jarige staan tereg op vyf aanklagte van oorlogsmisdade tydens sy diens in Afganistan tussen 2009 en 2012. Hy ontken dat hy enigiets verkeerd gedoen het. Roberts-Smith se regspan voer aan die buitengewone saak gaan baie tyd vereis en verdere aanhouding sal hom verhoed om ‘n behoorlike verdediging voor te berei. Volgens sy borgtogvereistes moet hy drie keer per week by die polisie aanmeld, hulle toegang gee tot sy elektroniese toestelle en sy paspoort inhandig.
# Atletiek: Wêreld-atletiek se nasionaliteit-hersieningspaneel het elf atlete se aansoeke verwerp om hul nasionaliteit na Turkye oor te dra. Dit sluit in vyf Keniane, onder andere die voormalige marathon-rekordhouer Brigid Kosgei, vier Jamaikane, ʼn Nigeriër en ʼn Rus. Die paneel het bevind die aansoeke is deel van ʼn gekoördineerde werwingstrategie van die Turkse regering, deur ʼn klub wat aan die regering behoort en daardeur gefinansier word, om oorsese atlete met winsgewende kontrakte te lok. Wêreld-atletiek sê die atlete mag steeds in Turkye woon of oefen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-33-sent teen die dollar, 19-rand-29-sent teen die euro en 22-rand-13-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 75-duisend-815-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-813-dollar-26-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 91-dollar-33-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….