Nuus 13:00
BULLETIN 17 April 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die NCC se president vra ‘n breër siening van die geskiedenis wat verder strek as apartheid
# Al Jama-ah is vol vertroue ‘n hoër hof sal Julius Malema se appèlaansoek oorweeg
# En rugby: Teleurstellende uitslae vir die Springbok Vroue-sewes in Hongkong
# Die president van die National Coloured Congress, Fadiel Adams, sê Suid-Afrikaners moet verder kyk as apartheid wanneer hulle geskiedkundige ongeregtigheid ondersoek. Hy het in die Wes-Kaap gesê om net op apartheid te fokus, ontsien die dieper uitwerking van kolonialisme met eeue-lange grondontneming en kulturele verlies. Adams beklemtoon begrip van die breër geskiedenis is belangrik om die huidige ongelykheid en erkenning van die oorsprong van maatskaplike en ekonomiese uitdagings te bestry:
# Die Al Jama-ah-party is vol vertroue ‘n hoër hof sal die regsmeriete en breër grondwetlike regsbeginsels van die EFF‑leier, Julius Malema, se appèlaansoek deeglik oorweeg om te verseker geregtigheid seëvier. Malema is verlof tot appèl toegestaan teen sy regstreekse gevangenisstraf van vyf-jaar vir die onwettige besit van ‘n vuurwapen. Imraan Moosa van Al Jama-ah sê die Grondwet waarborg elke beskuldigde het die reg om hul skuldigbevinding en vonnis te laat hersien deur ‘n hoër hof, wat tot ‘n ander gevolgtrekking kan kom.
# Die DA sê die beplande hervestiging van 172 geestesgesondheidspasiënte vanaf die Talisman-stigting in Johannesburg loop die gevaar om ‘n herhaling van die Life Esidimeni-tragedie te word. Jack Bloom van die party sê besluite moet deur kliniese sorg en pasiëntveiligheid gelei word eerder as administratiewe of finansiële druk. Bloom vra volle toesig van die Gautengse Gesondheidsdepartement om die veiligheid van pasiënte te verseker:
Nuus uit die buiteland:
# Pous Leo is tans in Kameroen op die tweede skof van sy geskiedkundige toer van 11-dae in Afrika. Hy het Woensdag met sy aankoms in Yaoundé sy boodskap toegespits op vrede, dialoog en humanitêre hulp. Dit volg op ‘n geskiedkundige besoek aan Algerië, die eerste ooit deur ‘n sittende pous. Hy reis môre na Angola om die heiligdom van Mama Muxima te besoek. Die reis deur die vier nasies, wat die groei van die Katolieke kerk in Afrika vier, word volgende week in Ekwatoriaal-Guineë afgesluit.
# Rugby: Die Springbok Vroue-sewes moes die knie buig in albei hulle wedstryde op die openingsdag van die wêreldkampioenskap in Hongkong. Teagan Levi het 14 punte vir Australië aangeteken, wat Suid-Afrika 33-nul geklop het in hulle openingswedstryd in Groep B in die Kai Tak-sportpark. Suid-Afrika het daarna 31-nul verloor teen Kanada, wat vyf drieë ingeryg het. Die Bokvroue speel môre teen Engeland in hulle laaste groepswedstryd.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-36-sent teen die dollar, 19-rand-30-sent teen die euro en 22-rand-14-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 75-duisend-857-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-795-dollar-64-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 92-dollar-96-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….