Nuus 12:00
BULLETIN 17 April 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Politieke ontleder sê Malema se moontlike afwesigheid kan ‘n leierskaps-onsekerheid in die EFF veroorsaak
# Koue, nat en winderige toestande word tot Maandag in dele van die land verwag
# En rugby: Gemengde uitslae vir die Blitsbokke op die openingsdag in Hongkong
# Die politieke ontleder Ongama Mtimka sê die EFF-leier, Julius Malema, se hangende tronkstraf bedreig sy bevoegdheid om ‘n staatsamp te beklee en ontbloot die party se gebrek aan ʼn opvolger. Malema is tot vyf-jaar tronkstraf gevonnis omdat hy ʼn vuurwapen in die openbaar afgevuur het. Hy appelleer teen die vonnis. Mtimka sê in ʼn News24-artikel Malema het nie die party voorberei vir ʼn ander leier nie, maar eerder probeer seker maak niemand het genoeg reg en respek om hom op te volg nie.
Intussen verwerp die Oos-Kaapse premier, Oscar Mabuyane, Malema se bewerings dat hy ʼn vals meestersgraad van die Universiteit van Fort Hare ontvang het. Hy het die bewerings buite die KuGompo-landdroshof gemaak toe hy sy ondersteuners toegespreek het. Die provinsiale regering se woordvoerder, Sonwabo Mbananga, sê die saak rakende die premier en die universiteit is tans voor die hof en dus sub judice:
# Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het ‘n waarskuwing uitgereik vir donderstorms met swaar reën en skadelike wind in dele van die land tot Maandag. ‘n Geel vlak 2-waarskuwing vir hewige donderstorms met swaar reën is uitgereik vir dele van die Noord-, die Oos- en die Wes-Kaap, en die sentrale en westelike dele van die Vrystaat en Noordwes. Weervoorspeller Tokelo Chiloane sê hierdie weers-verandering is die gevolg van twee agtereenvolgende kouefronte:
# Die Verenigde Nasies se sekretaris-generaal, António Guterres, verwelkom die skietstilstand van tien dae tussen Israel en Libanon, en hoop dit baan die weg vir onderhandelinge om ʼn langtermynoplossing te vind. Meer as twee-duisend mense is vermoedelik sedert verlede maand dood in Israelse aanvalle in Libanon. VN-woordvoerder Stéphane Dujarric sê hulle hoop alle partye sal die skietstilstand nakom, en sê die mense van Israel en Libanon verdien vrede:
# Rugby: Die Springbok-Sewes het vandag in Hongkong een wedstryd gewen en een verloor in die eerste van drie Wêreldkampioenskaps‑toernooie. Die Blitsbokke het Uruguay in hul openingswedstryd 12-7 geklop, gevolg deur ‘n nederlaag van 31-12 teen Spanje. Philip Snyman se manne pak Argentinië môreoggend in hul laaste Groep A-wedstryd. Die ander twee toernooie is in Mei in Valladolid, Spanje, en in Junie in Bordeaux, Frankryk, voor die grootkampioen gekroon word.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-38-sent teen die dollar, 19-rand-30-sent teen die euro en 22-rand-14-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 75-duisend-35-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-784-dollar-19-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 94-dollar-13-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….