Nuus 11:00
BULLETIN 17 April 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Politieke ontleder sê Julius Malema se moontlike afwesigheid kan leierskap-onsekerheid in die EFF veroorsaak
# Regter Mbenenge gaan ‘n hersieningsaansoek indien teen ‘n kommissie se bevinding van growwe wangedrag
# En tennis: Prysgeld in die Franse Ope word met 9,5-persent verhoog
# Die politieke ontleder Ongama Mtimka sê die EFF-leier, Julius Malema, se hangende tronkstraf bedreig sy bevoegdheid om ‘n staatsamp te beklee en ontbloot die party se gebrek aan ʼn opvolger. Malema is tot vyf-jaar tronkstraf gevonnis omdat hy ʼn vuurwapen in die openbaar afgevuur het. Hy appelleer teen die vonnis. Mtimka sê in ʼn News24-artikel Malema het nie die party voorberei vir ʼn ander leier nie, maar eerder probeer seker maak niemand het genoeg reg en respek om hom op te volg nie.
# Die Oos-Kaapse regter-president, Selby Mbenenge, gaan ʼn hersieningsaansoek indien nadat die Regterlike Dienskommissie hom skuldig bevind het aan growwe wangedrag. Dit keer ʼn beslissing van die Regterlike Gedragstribunaal om wat bewerings van seksuele teistering teen hom ondersoek en hom aan gewone wangedrag skuldig bevind het. Mbenenge kan moontlik in ‘n staat van beskuldiging geplaas word. Sy regsverteenwoordiger, Thabo Kwinana, het aan Newzroom Afrika gesê die proses is basies gebrekkig:
# Die GOOD-party sê Tshwane se stadsrede van burgemeester Nasiphi Moya wys die onbetwisbare waarheid dat Suid-Afrika se hoofstad opgang maak. Sarah Mabotsa van die party sê die duidelikste is die groot verbetering in die metro se finansiële situasie met kontantvloeireserwes wat van 17 na minstens 25 dae toegeneem het. Sy sê die verbetering in verslae van die ouditeur-generaal en internasionale vooruitsig van die agentskap Moody’s, bevestig die bestendiging van Tshwane se finansies:
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse president, Donald Trump, sê ‘n ooreenkoms is naby om die oorlog met Iran te beeïndig. Vredesamesprekings met Teheran kan hierdie naweek in Islamabad, Pakistan, hervat word. Trump het in Las Vegas gesê hy is nie seker of dit nodig is om die skietstilstand na Woensdag te verleng nie. Hy beweer ook Iran gaan verrykte uraan prysgee en kernwapen-planne staak soos die belangrikste punte in die samesprekings vereis:
# Tennis: Die prysgeld van die Franse Ope gaan byna tien-persent hoër wees as verlede jaar. Die organiseerders het ‘n verhoging van 9,5-persent aangekondig, wat ‘n totaal van 1,19-miljard-rand beloop. Die enkelspelkampioene sal elk meer as 49-miljoen-rand in die sak steek terwyl die verloorders in die eerste ronde 1,9-miljoen-rand sal ontvang. Die Spanjaard Carlos Alcaraz en die Amerikaner Coco Gauff is die verdedigende kampioene. Die kleibaan-Grand Slam-toernooi begin die 24ste van volgende maand op Roland Garros in Parys.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-41-sent teen die dollar, 19-rand-33-sent teen die euro en 22-rand-18-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 75-duisend-15-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-788-dollar-52-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 94-dollar-50-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….