Nuus 06:00
BULLETIN 17 April 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Nasionale Vervolgingsgesag sê Malema se vonnis sal as afskrikmiddel dien
# Die Tongaat Hulett-likwidasieverhoor word uitgestel nadat ‘n befondsingsooreenkoms verleng is
# En Donald Trump sê Libanon en Israel het ooreengekom op ‘n skietstilstand van 10 dae
# Die Nasionale Vervolgingsgesag sê die EFF-leier Julius Malema se vyf jaar regstreekse gevangenisstraf sal as die verlangde afskrikking dien vir voornemende oortreders in vuurwapenverwante oortredings. Sy saak spruit uit ‘n 2018-voorval in Mdantsane, waar hy ‘n geweer afgevuur het tydens die party se vyfde verjaardagbyeenkoms. Die Oos-Londense Landdroshof het Malema verlof toegestaan om teen sy tronkstraf te appelleer, maar nie teen sy skuldigbevinding nie. Luxolo Tyali van die NVG sê die vonnis beklemtoon die beginsel van gelykheid voor die reg:
AfriForum sê intussen die vonnisoplegging wys niemand is bo die wet verhewe nie. Malema is skuldig bevind op verskeie aanklagte kragtens die Wet op Vuurwapenbeheer, insluitend die onwettige afvuur van ‘n vuurwapen in ‘n openbare ruimte. Jacques Broodryk van AfriForum sê druk van die burgerlike samelewing het gehelp om die saak na die hof te bring:
# Die Hooggeregshof in Durban, KwaZulu-Natal, het die voorlopige likwidasieverhoor van Tongaat Hulett tot Junie uitgestel nadat ‘n nuwe befondsingsooreenkoms bereik is. Die Nywerheidsontwikkelingskorporasie het die befondsing na aanvang van die onderneming van 2,3-miljard-rand tot 2,5-miljard rand verhoog en die ondersteuningstydperk tot die einde van Junie 2026 verleng om die maatskappy se bedrywighede te help handhaaf. Die ooreenkoms is daarop gemik om op kort termyn finansiële verligting te bied terwyl belanghebbendes voortgaan met onderhandelinge oor ‘n moontlike langtermyn-reddingsooreenkoms.
# Die burgemeester van Tshwane, Nasiphi Moya, sê die onthullings van wanpraktyke voor die Madlanga-kommissie, is nie verbasend nie, want dit bevestig die kwessies wat deur die ouditeur-generaal in die metro geïdentifiseer is. Top metro-amptenare, insluitend die hoof finansiële beampte Gareth Mnisi en adjunk-polisiehoof, Umashi Dhlamini, is geskors nadat hulle betrek is by tender-onreëlmatighede. Moya sê hervormings is reeds aan die gang om toesig, beheer en gevolgbestuur te versterk, en om die kwessies wat deur die kommissie ondersoek word, aan te spreek:
# Die Amerikaanse president Donald Trump sê Israel en Libanon het ooreengekom op ‘n tien dae lange skietstilstand. Meer as tweeduisend mense is sedert Maart in Israelse aanvalle in Libanon dood. Amptenare van beide lande het vroeër die week hul eerste regstreekse gesprekke in dekades in Washington gevoer. In ‘n plasing op Truth Social sê Trump die Amerikaanse visepresident, JD Vance, en die minister van Buitelandse Sake, Marco Rubio, sal nou met die twee lande saamwerk om ‘n blywende vrede te bereik.
# Rugby: Ruan Vermaak sal op die bank begin in sy 50ste wedstryd vir die Bulle in die Verenigde Rugbykampioenskap-wedstryd teen die Dragons in Wallis vanaand, met Cobus Wiese en Ruan Nortjé die twee slotte. Dit is afrigter Johan Ackermann se enigste verandering aan die voorspelers, terwyl Handré Pollard en Embrose Papier die skakelpaar bly. Canan Moodie skuif van buitesenter na vleuel in die afwesigheid van die beseerde Kurt‑Lee Arendse en Cheswill Jooste. Die Bulle is tans agtste op die punteleer.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-39-sent teen die dollar, 19-rand-30-sent teen die euro en 22-rand-18-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 74-duisend-889-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-796-dollar-30-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 93-dollar-95-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….