Nuus 17:00
BULLETIN 16 April 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Julius Malema vra vir ‘n wangedrag-ondersoek na landdros Twanet Olivier se skuldigbevinding
# Thoko Didiza beklemtoon die rol van diplomasie met die aanvang van die Interparlementêre Unie-vergadering
# En, Suid-Afrika se top atlete kom vir die ASA seniorkampioenskappe in Stellenbosch byeen
# Die leier van die EFF, Julius Malema het ‘n vernietigende aanval op landdros Twanet Olivier van die Oos-Londense Landdroshof in KuGompo City, Oos-Kaap, geloods. Hy het haar as onbevoeg beskryf en sê sy moet van wangedrag aangekla word. Malema het ondersteuners buite die hof toegespreek en die hof van vooroordeel en politieke inmenging beskuldig na sy vyf jaar vonnis vir oortredings van die Vuurwapenwet. Hy het ook die vervolgingspan gekritiseer en beweerde prosedurele wangedrag aangevoer. Hy het belowe die EFF sal nie ontmoedig word nie:
# Die Speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, het die belangrikheid van parlementêre diplomasie beklemtoon te midde van die 152ste Interparlementêre Unie-vergadering wat in Istanbul, Turkye, plaasvind. Belangrike besprekings sluit in, kunsmatige intelligensie-bestuur en veilige moederskap. Didiza sê die platform is noodsaaklik vir die bevordering van vrede, samewerking en verantwoordbaarheid te midde van internasionale onbestendigheid. Sy het gevegte in streke soos Oos-Europa en die Midde-Ooste uitgelig en vra inklusiewe leierskap binne die Interparlementêre Unie.
# Die DA verwelkom die minister van vervoer, Barbara Creecy, se bevestiging dat die proses om die R59 na die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap oor te dra, begin het. Die R59 begin in Dealesville in die Vrystaat en gaan noordoos oor die Vaalrivier en eindig in Tulisapark naby Johannesburg. Die DA-lid, Igor Scheurkogel, sê dit is uiters belangrik om te verseker hierdie belangrike ekonomiese roete moet behoorlik herstel en onderhou word om padgebruikers te beskerm en plaaslike ekonomieë te ondersteun:
# Die Kwanele-stigting, wat toegewy is aan die bekamping van geslagsgeweld, veroordeel wat hulle onregstreekse viktimisering noem, in die Dobsonville-verkragtingsaak van ‘n 12-jarige meisie. Die beskuldigde, ‘n 58-jarige kerkleier, staan tereg op aanklagte van verkragting. ‘n Aktivis, Sihle Sibisi, kritiseer politieke partye oor die identifikasie van die slagoffer en haar gesin en sê dit stel hulle bloot aan langtermyn skade. Sy is ook bekommerd oor politieke bedrywighede voor die Landdroshof in Roodepoort, waar die polisie moes ingryp nadat spanning toegeneem het en partylede tydens ‘n betoging slaags geraak het.
# Atletiek: Suid-Afrika se top-atlete sal gedurende die volgende drie dae in aksie wees, met die ASA Senior atletiekkampioenskappe wat by Coetzenburg-stadion in Stellenbosch begin. Alle oë is op die mans 100-meter, met Atletiek Gauteng-Noord se blitsatleet, Gift Leotlela as voorloper, wat die eindwedloop van verlede jaar se Wêreldatletiekkampioenskappe in Tokio gehaal het. Hy sal meeding teen atlete soos Benjamin Richardson, Bradley Nkoana, sowel as die 400-meter-wêreldrekordhouer Wayde van Niekerk, en voormalige wêreldjeugkampioen Retshidisitswe Mlenga.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-39-sent teen die dollar, 19-rand-30-sent teen die euro en 22-rand-20-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 74-duisend-758-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-817-dollar-21-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 93-dollar-48-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….