Nuus 09:00
BULLETIN 16 April 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die GOOD-party sê Roelf Meyer se aanstelling is ‘n daad van versoening
# ActionSA verwelkom die skorsing van Tshwane se finansiële bestuurshoof
# En China se ekonomie groei vinniger as verwag
# Die GOOD-party sê dis ‘n slim plan om ʼn wit Afrikaner-man wat bande gehad het met die apartheidsregering na Washington te stuur om president Donald Trump se regering te paai. Die party het gereageer op Roelf Meyer se aanstelling as Suid-Afrika se ambassadeur in Amerika. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê Meyer se ervaring as onderhandelaar van die land se politieke bestel en nuwe Grondwet, gee hom ʼn vaste grondslag om die leuens oor volksmoord verkeerd te bewys:
# Die vakverbond Cosatu voeg hierby in die lig van die vakante ambassadeurspos in Amerika en die gespanne bilaterale verhouding, moes die pos lankal gevul wees, met die uitsluiting van regse Afrikaners. Die ervare onderhandelaar, Roelf Meyer, se aanstelling in die amp word wyd verwelkom. Matthew Parks van Cosatu sê hulle is teleurgesteld oor AfriForum, die Vryheidsfront Plus en ander regse groepe se negatiewe reaksie:
# ActionSA het die Stad Tshwane se besluit om die beleërde finansiële hoof Gareth Mnisi onmiddellik voorlopig te skors, verwelkom. Mnisi is by die Madlanga-kommissie betrek vir samespanning met ander senior amptenare van die metro om die toekenning van tenders te manipuleer. Henriette Frohlich van ActionSA sê Mnisi se skorsing is nodig om die integriteit van die voortgesette ondersoek na beweerde wangedrag en tenderbedrog te beskerm:
# China se ekonomie het in die eerste drie maande vanjaar met vyf-persent gegroei en oortref alle verwagtinge te midde van die Israel/Amerikaanse oorlog in Iran. Die verbetering vanaf 4,5-persent in die vorige kwartaal word toegeskryf aan vervaardiging, voertuie en ander uitvoere. China is die wêreld se tweede grootste ekonomie en die wêreld se grootste olie-invoerder. Die Nasionale Statistiek-buro sê die eksterne omgewing raak toenemend wisselvallig en ingewikkeld, en waarsku teen ʼn skerp wanbalans tussen sterk aanbod en swak aanvraag.
# Sokker: Bayern Munich het die 15-malige kampioene, Real Madrid, met 4-3 verslaan in die Kampioeneliga se tweede kwarteindronde-wedstryd in München en na die halfeindronde deurgedring. Madrid het drie keer die telling gelykop gemaak, maar Bayern het elke keer gereageer. Doele deur Luis Díaz en Michael Olise laat in die wedstryd was bepalend en Bayern het in totaal met 6-4 gewen. Arsenal is ook deur na die halfeindronde nadat ʼn gelykop-telling van nul elk hulle in totaal ʼn voorsprong van 1-0 bo Sporting gegee het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-32-sent teen die dollar, 19-rand-28-sent teen die euro en 22-rand-16-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 74-duisend-967-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-827-dollar-60-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 92-dollar-95-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….