Nuus 08:00
BULLETIN 16 April 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC is vol vertroue dat Roelf Meyer Suid-Afrika met onderskeiding en integriteit sal verteenwoordig
# Die NUM aanvaar Eskom se 7-persent loonaanbod
# En swem: Ses Suid-Afrikaners is op pad na die Statebondspele
# Die ANC verwelkom Roelf Meyer se aanstelling as Suid-Afrika se ambassadeur in Amerika en sê dis ‘n meesterlike strategiese ontplooiing. Sy aanstelling volg nadat die vorige ambassadeur, Ebrahim Rasool, uit Amerika geskop is nadat hy in 2025 persona non grata verklaar is ná opmerkings tydens ʼn webinaar oor Amerikaanse politiek. Die ANC sê Meyer se aanstelling kom op ʼn belangrike oomblik in die veranderende verhouding tussen Suid-Afrika en Amerika. Hy sê Meyer sal die land met onderskeiding en integriteit verteenwoordig.
# Daarby voeg die DA Roelf Meyer se aanstelling as Suid-Afrika se ambassadeur in Amerika is ʼn goeie keuse, gegewe die behoefte aan ervare diplomasie om die gespanne verhouding tussen die twee lande te herstel. Die 78-jarige ervare onderhandelaar volg Ebrahim Rasool op, wat verlede jaar uit Amerika geskop is. Ryan Smith van die DA sê Meyer se sukses kan en sal slegs gemeet word aan sy vermoë om deur verskeie diplomatieke dooiepunte te breek wat onder die Trump-administrasie in Washington bestaan:
# Die Nasionale Unie van Mynwerkers het Eskom se loonaanbod van sewe-persent aanvaar. Dit volg na maande lange onderhandelinge by die Sentrale Bedingingsforum waar die vakbond aanvanklik ʼn 15-persent verhoging en beter voordele geëis het. Die huidige loonooreenkoms van drie jaar verstryk in Junie. Die vakbond Numsa het reeds die loonaanbod verwerp. Die NUM se adjunkpresident, Olehile Kgware, het aan die SABC gesê werksekerheid is ʼn prioriteit:
# Die Britse eerste minister, Keir Starmer, sê hy gaan nie toegee aan druk van president Donald Trump om by Amerika en Israel se oorlog teen Iran aan te sluit nie. Trump kritiseer Starmer omdat hy geweier het om deel te neem toe die oorlog in Februarie begin het. Trump dreig ook om die bepalings van die handelsooreenkoms tussen Amerika en die Verenigde Koninkryk te verander. Starmer het aan die Laerhuis gesê dis nie in Brittanje se belang om by die oorlog betrokke te raak nie:
# Swem: Aimee Canny en Pieter Coetzé is onder die ses swemmers wat kwalifiserende tye vir die Statebondspele op die tweede dag van die SA Swemkampioenskap in Gqeberha, Oos-Kaap behaal het. Canny het kwalifiserende tye in twee items, die 200-meter vryslag en die 100-meter-borsslag behaal. Coetzé het onder die bepaalde tyd in die 50 en 100-meter rugslag geswem. Erin Gallagher, Rebecca Meder, Jessica Thompson en Ruard van Renen het ook die lys van kwalifiseerders gehaal. Die Statebondspele word van 23 Julie tot 2 Augustus in Glasgow, Skotland gehou.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-31-sent teen die dollar, 19-rand-28-sent teen die euro en 22-rand-17-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 75-duisend-83-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-823-dollar-97-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 91-dollar-96-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….