Nuus 07:00
BULLETIN 16 April 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF verwerp die aanstelling van Roelf Meyer as ambassadeur in die VSA
# Die Suid-Afrikaanse huismark is op ‘n keerpunt met die styging van wêreldwye risiko’s
# En nege is dood in Turkye se tweede skoolskietery in twee dae
# Die EFF verwerp Roelf Meyer se aanstelling as Suid-Afrika se ambassadeur in Amerika, en sê dis toondoof en ‘n belediging vir die land se demokratiese stryd. President Cyril Ramaphosa het Meyer as nuwe ambassadeur aangestel nadat die pos meer as ʼn jaar lank vakant was sedert Ebrahim Rasool in Maart verlede jaar uit Amerika geskop is. President Donald Trump se administrasie het Rasool persona non grata verklaar na sy opmerkings oor Amerika se sogenaamde wit oppergesag en grondhervorming in Suid-Afrika. Die EFF sê Meyer se aanstelling gee aanstoot.
# Die Solidariteitregsnetwerk sê regterlike aanstellings moet op meriete, billikheid en professionele bevoegdheid gebaseer word eerder as rassekriteria. Die netwerk het die Regterlike Dienskommissie gekritiseer vir ‘n oormatige fokus op ras tydens die onderhoud van regter Evette Dippenaar vir aanstelling in die Mededingingsappèlhof. Emil Glas van Solidariteit waarsku oormatige klem op transformasie kan vertroue in die howe skaad en kan die integriteit van die regterlike keuringsproses verswak:
# Die Reside-beraad sê Suid-Afrika se residensiële eiendomsmark ondergaan groot veranderinge, gedryf deur wêreldwye onsekerheid, stygende koste en veranderende kopersgedrag. Bedryfsleiers sê die sektor beweeg weg van spekulatiewe belegging na meer professionele, institusionele huurbehuising, insluitend multi-gesinsontwikkelings en studenteverblyf. Die voorsitter van die beraad, Debbie Tagg, waarsku geopolitieke spanning en hoë energiepryse kan rentekoersverligting vertraag en verdere druk op ontwikkelaars en kopers plaas.
# Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, het leierskapsveranderinge in KwaZulu-Natal aangekondig met Mike Mabuyakhulu wat oorneem as sameroeper van die party se provinsiale taakspan. Dit volg nadat die vorige hoof, wat in Februarie verlede jaar aangestel is om organisatoriese strukture te bou in ooreenstemming met die resolusies van die ANC se nasionale konferensie, se termyn verstryk het. Mabuyakhulu vervang Jeff Radebe, terwyl James Nxumalo aangestel is as provinsiale koördineerder. Mbalula sê die veranderinge volg na ʼn hersiening van die uitgaande struktuur se prestasie:
# Nege mense is dood en 13 beseer nadat ʼn student gister by die Ayser Calik Secondary School in Turkye op mense losgebrand het. Die 14-jarige student, wat gewapen was met vyf vuurwapens en sewe magasyne in sy rugsak, het twee klaskamers binnegegaan en lukraak begin skiet. Ná die voorval het hy homself geskiet. Die wapens behoort glo aan die tiener se pa, wat tans in polisie-aanhouding is. Dit volg ná Dinsdag se skietery toe ʼn oudstudent op sy skool losgebrand en 16 mense gewond het voor hy homself doodgeskiet het.
# Gholf: Die Suid-Afrikaner, Casandra Alexander, lei ʼn ster-besaaide veld met vyf voormalige kampioene in die Johannesburgse Vroue Ope wat vandag by die Randpark-gholfklub afslaan. Alexander, wat in 2021 die laaste plaaslike kampioen van die toernooi en verlede jaar se naaswenner was, speel saam met landgenote soos Danielle du Toit, Gabrielle Venter en Nadia van der Westhuizen. Die Duitser, Celina Sattelkau, mik vir ʼn derde oorwinning in hierdie seisoen se toer, terwyl Lois Lau van Frankryk ook een van gunstelinge is om vanjaar se titel te wen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-34-sent teen die dollar, 19-rand-30-sent teen die euro en 22-rand-18-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 74-duisend-133-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-800-dollar-80-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 91-dollar-94-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….