Nuus 17:00
BULLETIN 15 April 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Paul Mashatile sê die regering ontwikkel ‘n omvattende reaksie op die Vierde Nywerheidsrevolusie
# Koning Charles gaan die Kongres toespreek en Trump ontmoet tydens sy besoek aan Amerika
# En ActionSA sê vertragings met skuldigbevindings vir renosterstropery ontbloot die swakhede in omgewings-wetstoepassing
# Adjunkpresident Paul Mashatile sê die regering ontwikkel ‘n omvattende reaksie op die Vierde Nywerheidsrevolusie met ‘n benadering wat tegnologie by ekonomiese en maatskaplike sektore insluit. ‘n Verslag van die Wêreld-ekonomiese Forum se Toekoms van Werkgeleenthede 2025 dui aan take sal teen 2030 byna gelykop verdeel wees tussen mens en masjien. Mashatile sê kunsmatige intelligensie moet gesien word as dryfveer vir ekonomiese ontwikkeling wat doeltreffendheid verhoog, vernuwing bevorder en geleenthede skep:
# Die Vereniging van Staatsamptenare is bekommerd oor die toenemende krisis by die Inligtingsreguleerder. Werknemers is onseker oor salarisbetalings, verlies aan voordele en onveilige werkstoestande. ‘n Onlangse oordrag van die Persal-stelsel na Sage 360 is swak uitgevoer, met onvoldoende beraadslaging of veiligheidsmaatreëls. Werknemers is onseker of hul salarisse vandag oorbetaal sal word. Die vakbond se woordvoerder, Claude Naicker, sê die reguleerder se uitvoerende hoof, Mosalanyane Mosala, moet die krisis dringend hanteer:
# ActionSA verwelkom die skuldigbevinding van interne rolspelers betrokke by renosterstropery in die Krugerwildtuin en noem dit ‘n deurbraak in die bekamping van georganiseerde wildstropery. Woordvoerder Alan Beesley sê egter die vertraging van vier jaar weerspieël swak staatsvermoë wat stropernetwerke toelaat om te floreer. Hy sê natuurmisdaad word verbind met groter transnasionale sindikate en bepleit strenger wetstoepassing, grensbeheer en strawwe om bioverskeidenheid te beskerm:
Nuus uit die buiteland:
# Buckingham-paleis het besonderhede onthul oor koning Charles en koningin Camilla se besoek aan Amerika later die maand. Die vierdaagse besoek sal die 250ste herdenking van Amerikaanse onafhanklikheid vier en behels dat Charles president Donald Trump ontmoet en die Kongres toespreek. Hy sal die tweede Britse monarg wees wat die Kongres toespreek nadat sy ma, koningin Elizabeth, in 1991 in die Capitol gepraat het. Die paleis sê die besoek is daarop gemik om die omvang van die ekonomiese, veiligheids- en kulturele verhouding tussen die twee lande te vertoon.
# Sokker: Die wêreldbeheerliggaam, FIFA, het volgens berigte die Amerikaanse president, Donald Trump, versoek om immigrasie-klopjagte te staak tydens die Wêreldbeker-toernooi in sy land, Kanada en Mexiko. Dit blyk dat FIFA se president, Gianni Infantino, sy verhouding met Trump kan gebruik om ‘n staking van die Amerikaanse Immigrasie- en Doeane-afdwingings-eenheid se bedrywighede in gasheerstede te bewerkstellig. Die stap is gemik op verligting van veiligheidskwessies en om gladde toernooibedrywighede te verseker te midde van ‘n groter fokus op immigrasie-afdwinging.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-39-sent teen die dollar, 19-rand-32-sent teen die euro en 22-rand-22-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 74-duisend-274-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-811-dollar-1-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 92-dollar-78-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….