Nuus 15:00
BULLETIN 15 April 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die staat verwerp Malema se versoek vir ‘n vonnis sonder gevangenisstraf en eis minstens sewe jaar
# President Cyril Ramaphosa skets die plan om munisipaliteite in ekonomiese bedryfstelsels te omskep
# En krieket: RCB en Lucknow spook vandag sake uit in die IPL terwyl Kolkata se nagmerrie voortduur
# Staatsaanklaer Joel Cesar verwerp die versoek van EFF-leier Julius Malema se regsverteenwoordiger vir ‘n vonnis sonder gevangenisstraf en sê hy is ‘n parlementslid wat gekies het om die wet te oortree. Hy het in die Landdroshof in KuGompo City, vroeër Oos-Londen, in die Oos-Kaap gesê Malema se optrede stuur ‘n gevaarlike boodskap aan jong ondersteuners. Hy versoek minimum-tronkstraf van sewe-jaar vir die oortreding van die Wet op Vuurwapenbeheer:
# President Cyril Ramaphosa het ‘n plan uiteengesit om munisipaliteite as ekonomiese bedryfstelsels te versterk om plaaslike groei en belegging aan te vuur. Hy het op ‘n beleggingskonferensie in Boksburg, Gauteng, gesê munisipaliteite moet meer doen om daadwerklike bemagtigers van ekonomiese bedrywighede te word. Ramaphosa beklemtoon die vermindering van rompslomp, die bevordering van plaaslike entrepreneurskap en die belyning van ontwikkelingsplanne met nasionale nywerheidsbeleid om werksgeleenthede en inklusiewe ekonomiese groei te ontsluit:
Die Suid-Afrikaanse Plaaslike Regeringsvereniging vra ook dat munisipaliteite in die middelpunt van plaaslike ekonomiese ontwikkeling geplaas word, en voer aan ontwikkelende plaaslike regering moet meer as dienslewering bied om dryfvere van produksie en groei te word. SALGA se president, Bheki Stofile, beklemtoon ook plaaslike ekonomiese ontwikkeling moet infrastruktuur, landbou, vervaardiging en plaaslike verkryging insluit. Hy sê landelike paaie, spesiale integrasie van ekonomiese sones en vaardigheidsontwikkeling is sleutel-voorkeure:
# Die KwaZulu-Natalse polisie het verskeie verdagtes aangekeer tydens ‘n klopjag op ‘n vals oproepsentrum in Umhlanga, Durban, wat na bewering verbind word met bankswendelary van miljoene rand. Twee sakemanne het glo die verdagtes in diens geneem, wie se werkswyse behels het dat hulle mense geteiken het met groot bedrae geld in hul bankrekeninge. Hulle het slagoffers dan na bewering oortuig om geld te verskuif onder die voorwendsel dat hul rekeninge gekaap is. Die operasie het deel gevorm van ‘n langdurige bedrogondersoek wat die banksektor betrek het.
# Krieket: Die verdedigende kampioen, Royal Challengers Bengaluru, is vandag gasheer vir Lucknow Super Giants in die Indiese Premierliga. RCB is tans derde op die punteleer en Lucknow sewende. Kolkata Knight Riders se nagmerrie-seisoen het gister voortgeduur met ‘n nederlaag met 32-lopies teen Chennai Super Kings in Chennai. Die gashere het 192 vir sewe bereik en die besoekers kon slegs 160 vir sewe haal. Kolkata, wat steeds laaste op die punteleer is, het nou vier van sy eerste vyf kragmetings verloor terwyl nog een uitgereën het. Chennai is agste.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-39-sent teen die dollar, 19-rand-30-sent teen die euro en 22-rand-19-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 74-duisend-21-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-807-dollar-89-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 93-dollar-4-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….