Nuus 14:00
BULLETIN 15 April 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die voormalige hoof van die Valke in KwaZulu-Natal onttrek van getuienis voor die Nkabinde-ondersoek
# Cosatu dring aan op geregtigheid ná die moord op ‘n verklikker in Emfuleni
# En rugby: Die Crusaders word gedwing om ‘n dekades-oue tradisie te laat vaar
# Die voormalige hoof van die Valke in KwaZulu-Natal, Johan Booysen, het onttrek van getuienis voor die Nkabinde-ondersoek. Hy moes sleutelgetuienis lewer met betrekking tot die eenheid in Cato Manor en aanklaersbesluite wat onder die loep is. Ondersoek word ingestel na die Nasionale Vervolgingsgesag se aanklagte van afpersing teen Booysen en die eenheid, sowel as die Suid-Gautengse Direkteur van Openbare Vervolging, Andrew Chauke, se hantering van die saak en sy besluit om nie die voormalige hoof van Misdaadintelligensie, Richard Mdluli, te vervolg nie.
# Die vakbondfederasie Cosatu is verontwaardig oor die moord op ‘n munisipale werker van Emfuleni in Gauteng nadat sy beweerde korrupsie blootgelê het. Martha Rantsofu het onreëlmatighede rakende munisipale rekeninge aangemeld en ‘n saak by die Valke aanhangig gemaak. Zanele Sabela van Cosatu vra wetstoepassing om diegene wat verantwoordelik is, vinnig aan te keer en te vervolg, en beslag te lê op bates wat met die beweerde korrupsie verband hou:
# Die Vryheidsfront Plus het die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, versoek om die sperdatum vir openbare deelname oor voorgestelde veranderings aan die Geskiedenis-leerplan met 14-dae te verleng. Die departement oorweeg ‘n verskuiwing weg van ‘n Eurosentriese na ‘n meer Afrosentriese benadering, met groter fokus op Afrika-ryke, mondelinge geskiedenis en bevrydingsbewegings. Wynand Boshoff van die VF Plus sê die dokumente waarop kommentaar gevra word, is omvangryk en vereis deeglike ondersoek:
Nuus uit die buiteland:
# Duitsland se Ministerie van Ontwikkeling sê die land gaan vanjaar nog 385-miljoen-rand verskaf aan Soedan. Dit volg voor vandag se internasionale hulpverleningskonferensie in Berlyn, wat meer as 16,5-miljard-rand se befondsings-verbintenisse wil inwin. Die oorlog van drie jaar tussen die Soedanse Weermag en paramilitêre magte het wydverspreide hongersnood meegebring en miljoene mense ontwortel te midde van een van die wêreld se grootste humanitêre krisisse. Die konferensie gaan probeer om aandag op Soedan te vestig terwyl die oorloë in Oekraïne en Iran ‘n groter invloed het op Europese regerings.
# Rugby: Die Crusaders van Nieu-Seeland is gedwing om hul dekades-oue ruiterparade voor tuiswedstryde in Christchurch te laat vaar. Die perde, wat in die span se rooi-en-swart-toerusting geklee is, het die afgelope 30-jaar voor wedstryde in Rugby League-park en Lancasterpark rondgedraf, maar die infrastruktuur by die Crusaders se nuwe tuiste, die Te Kaha-stadion, is nie geskik vir die diere nie. Dit het gelei tot die baie moeilike besluit om die parade te laat vaar. Die ruiters se woordvoerder, Mark Donald, sê hulle is ongelooflik teleurgesteld, maar verstaan die redes.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-41-sent teen die dollar, 19-rand-33-sent teen die euro en 22-rand-23-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 73-duisend-922-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-795-dollar-14-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 93-dollar-87-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….