Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 15 April 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met sokker: Banyana Banyana het Algerië 1-0 geklop in ‘n internasionale vriendskaplike wedstryd in Durban. Nthabiseng Majiya het die enigste doel in die 35ste minuut aangeteken. Dit was die eerste van twee vriendskaplike wedstryde tussen die twee lande terwyl hulle gereed maak vir die Vroue-Afrikabekertoernooi in Julie in Marokko. Banyana se afrigter, Desiree Ellis, is tevrede met die uitslag, maar glo hulle kan steeds verbeter:
Nog sokkernuus: Die wêreldbeheerliggaam, FIFA, het volgens berigte die Amerikaanse president, Donald Trump, versoek om immigrasie-klopjagte te staak tydens die Wêreldbeker-toernooi in sy land, Kanada en Mexiko. Dit blyk dat FIFA se president, Gianni Infantino, sy verhouding met Trump kan gebruik om ‘n staking van die Amerikaanse Immigrasie- en Doeane-afdwingings-eenheid se bedrywighede in gasheerstede te bewerkstellig. Die stap is gemik op verligting van veiligheidskwessies en om gladde toernooibedrywighede te verseker te midde van ‘n groter fokus op immigrasie-afdwinging.
# Krieket: Die ervare Protea-spelers Dané van Niekerk en Marizanne Kapp gaan die reeks van vyf T20s teen Indië misloop, maar hoop om gereed te wees vir die Wêreldbekertoernooi wat op 12 Junie in Engeland begin. Van Niekerk herstel nog van ‘n besering en Kapp van siekte, en albei het die onlangse reeks teen die White Ferns van Nieu-Seeland misgeloop. Die reeks teen Indië begin Vrydag in Durban, gevolg deur nog ‘n kragmeting in die hawestad, twee in Johannesburg en die laaste een in Benoni, Gauteng.
# Rugby: Suid-Afrika-A en Zimbabwe gaan op 20 Junie ‘n voorwedstryd speel vir die Springbokke se eerste wedstryd van die seisoen, teen die Barbarians in Gqeberha. Dit sal die A-span se eerste kragmeting wees sedert ‘n Europese toer van 2022, terwyl die buurland die eerste keer sedert 1991 gekwalifiseer het vir die Wêreldbekertoernooi wat volgende jaar in Australië plaasvind. Bok-afrigter Rassie Erasmus beskryf die wedstryd as ‘n ongelooflike geleentheid vir albei spanne en sê Bokke soos Sacha Feinberg-Mngomezulu, Aphelele Fassi en Grant Williams het voorheen vir die A-span gespeel.
En nog rugbynuus: Die Crusaders van Nieu-Seeland is gedwing om hul dekades-oue ruiterparade voor tuiswedstryde in Christchurch te laat vaar. Die perde, wat in die span se rooi-en-swart-toerusting geklee is, het die afgelope 30-jaar voor wedstryde in Rugby League-park en Lancasterpark rondgedraf, maar die infrastruktuur by die Crusaders se nuwe tuiste, die Te Kaha-stadion, is nie geskik vir die diere nie. Dit het gelei tot die baie moeilike besluit om die parade te laat vaar. Die ruiters se woordvoerder, Mark Donald, sê hulle is ongelooflik teleurgesteld, maar verstaan die redes.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….