Nuus 12:00
BULLETIN 15 April 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Malema se regsverteenwoordiger bepleit ‘n ligte vonnis vir hom
# ActionSA sê die Esidimeni-vervolgings moet die begin van aanspreeklikheid aandui
# En rugby: Suid-Afrika-A en Zimbabwe speel in Junie in die voorwedstryd vir die kragmeting tussen die Bokke en Barbarians
# EFF-leier Julius Malema se regsverteenwoordiger, Laurence Hodes, het die Landdroshof in Oos-Londen in die Oos-Kaap gevra vir ‘n inskiklike vonnis, insluitend alternatiewe vir gevangenisstraf. Die voorvonnis-verrigtinge het vanoggend begin nadat Malema skuldig bevind is aan onder meer die afvuur van ‘n vuurwapen in ‘n beboude gebied tydens ‘n saamtrek in Mdantsane in 2018. Hodes het aangevoer die vuurwapen is slegs vir vieringsdoeleindes gebruik sonder die bedoeling om skade te doen:
# ActionSA sê die Nasionale Vervolgingsgesag se besluit om die betrokkenes in die Life Esidimeni-tragedie te vervolg, moet die begin van aanspreeklikheid aandui. Die tragedie het tussen 2015 en 2016 die lewens van minstens 141 psigiatriese pasiënte geëis nadat hulle van gelisensieerde geriewe na ongeregistreerde en swak-toegeruste nie-regeringsorganisasies oorgeplaas is. ActionSA sê Suid-Afrikaners verdien ‘n gesondheidsorgstelsel wat die kwesbaarste beskerm, nie een wat mense blootstel aan skade weens nalatigheid en wanbestuur nie.
# Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, waarsku Suid-Afrika se intelligensiedienste tree op in ‘n toenemend ingewikkelde en ontwikkelende bedreigings-landskap. Die regering het die Nasionale Sentrum vir Intelligensiekoördinering gestig om die land se vermoë te verbeter om ontwikkelende bedreigings te voorsien, op te spoor en te neutraliseer. Ntshavheni sê die intelligensiedienste word bedryf in ‘n omgewing van transnasionale misdaadnetwerke, spioenasie en buitelandse inmenging, ekonomiese sabotasie, sowel as opkomende tegnologiese bedreigings:
Nuus uit die buiteland:
# Die Internasionale Atoomenergie-agentskap sê enige Amerikaans-Iranse ooreenkoms om die Midde-Oosterse oorlog te beëindig, moet omvattende maatreëls insluit om Teheran se kernbedrywighede te bevestig. Iran het die agentskap nie toegelaat in sy kerngeriewe nadat Israel en Amerika dit in Junie verlede jaar twaalf-dae lank gebombardeer het nie, en beskuldig die agentskap van die Verenigde Nasies van vooroordeel en versuim om die aanvalle te veroordeel. Direkteur-generaal Rafael Grossi sê Iran het ‘n baie omvangryke kernprogram, wat die teenwoordigheid van sy inspekteurs sal vereis as ‘n blywende skietstilstand bereik word.
# Rugby: Suid-Afrika-A en Zimbabwe gaan op 20 Junie ‘n voorwedstryd speel vir die Springbokke se eerste wedstryd van die seisoen, teen die Barbarians in Gqeberha. Dit sal die A-span se eerste kragmeting wees sedert ‘n Europese toer van 2022, terwyl die buurland die eerste keer sedert 1991 gekwalifiseer het vir die Wêreldbekertoernooi wat volgende jaar in Australië plaasvind. Bok-afrigter Rassie Erasmus beskryf die wedstryd as ‘n ongelooflike geleentheid vir albei spanne en sê Bokke soos Sacha Feinberg-Mngomezulu, Aphelele Fassi en Grant Williams het voorheen vir die A-span gespeel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-31-sent teen die dollar, 19-rand-24-sent teen die euro en 22-rand-13-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 73-duisend-998-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-810-dollar-39-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 92-dollar-62-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….