Nuus 08:00
BULLETIN 15 April 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die IMF verlaag Suid-Afrika se groeivooruitsigte te midde van die Midde-Oosterse konflik
# Die EFF sê die vuurwapensaak teen Malema is ‘n poging om die party te vernietig
# En Israel en Libanon het ooreengekom om verdere samesprekings te voer
# Die Internasionale Monetêre Fonds het Suid-Afrika se geprojekteerde groei in bruto binnelandse produk vanjaar weens die Midde-Oosterse konflik tot slegs een-persent verlaag. Voor die oorlog uitgebreek het, was die IMF se voorspelling 1,4-persent. Suid-Afrika maak staat op ingevoerde brandstof, onder meer van lande wat weens die ontwrigting van skeepvaart in die Straat van Hormoes nie kan handeldryf nie. Die land se verwagte groei is die laagste onder opkomende markte en ontwikkelende ekonomieë.
# Die EFF sê die saak teen sy leier, Julius Malema, is ‘n poging om die party te vernietig, en beklemtoon dat howe nie as instrumente gebruik moet word om politieke gevegte te voer nie. Hy is verlede jaar skuldig bevind aan die onwettige besit van ‘n vuurwapen en die afvuur van ‘n vuurwapen in ‘n openbare area. Dit spruit uit ‘n voorval in 2018 by ‘n partybyeenkoms in Mdantsane. Vonnisoplegging sal vandag in die Oos-Londense Landdroshof begin. Die EFF se sekretaris-generaal, Marshall Dlamini, sê daar is geen saak teen Malema nie:
# Die Stad Johannesburg se Vervoerdepartement het die staking van Rea Vaya Fase 1B-busse met onmiddellike ingang opgehef. Dit volg nadat ‘n ooreenkoms gisteraand met die busbedryfsmaatskappy bereik is. Pendelaars op die Soweto-, Parktown- en Braamfontein-roetes het gesukkel met alternatiewe vervoer ná ‘n vertraging in betalings aan die busbedryfsmaatskappy weens die metro se begrotingsaanpassingsproses. Die metro sê die bedoeling was nie om pendelaars gestrand te laat nie, maar om ‘n gepaste oplossing te vind sodat busbedrywighede sonder onderbrekings kan hervat.
# Israel en Libanon het ooreengekom om regstreekse onderhandelinge voort te sit. Die twee lande het gister hulle eerste diplomatieke gesprekke in meer as drie dekades gevoer na bemiddeling deur Amerika se minister van Buitelandse Sake, Marco Rubio, in ‘n poging om gevegte tussen Israel en die Iran-ondersteunde Hisbolla-groep te beëindig. Meer as twee-duisend mense is dood sedert Israel op 2 Maart met militêre optrede in Libanon begin het. Israel se ambassadeur in Amerika, Yechiel Leiter, sê Israel en Libanon is op dieselfde bladsy:
# Sokker: Banyana Banyana het Algerië met 1-0 geklop in ʼn internasionale vriendskaplike wedstryd in Durban. Nthabiseng Majiya het die enigste doel in die 35ste minuut aangeteken. Dit was die eerste van twee vriendskaplike wedstryde tussen die twee lande terwyl hulle gereed maak vir die Vroue-Afrikabeker in Julie in Marokko. Banyana Banyana se afrigter, Desiree Ellis, sê sy is tevrede met die uitslag, maar hulle kan steeds verbeter:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-34-sent teen die dollar, 19-rand-26-sent teen die euro en 22-rand-16-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 74-duisend-273-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-826-dollar-46-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 92-dollar-16-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….