Nuus 07:00
BULLETIN 15 April 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa gaan Roelf Meyer as die land se volgende ambassadeur in die VSA aanstel
# Absa waarsku teen beduidende stygings in voedselpryse te midde van die Midde-Oosterse konflik
# En China sê die Amerikaanse blokkade is gevaarlik en onverantwoordelik
# President Cyril Ramaphosa is volgens berigte gereed om die ervare politikus, Roelf Meyer, as Suid-Afrika se ambassadeur in Amerika aan te wys. Die 78-jarige Meyer was van 1979 tot 1997 parlementslid en hoofonderhandelaar van die Nasionale Party tydens onderhandelings om apartheid te beëindig. Hy was ook deel van die span wat Suid-Afrika se demokratiese grondwet opgestel het. Meyer vervang Ebrahim Rasool, wat in 2025 deur Amerika se minister van Buitelandse Sake, Marco Rubio, as persona non grata verklaar is ná sy kritiek teen president Donald Trump se administrasie en beleid.
# Daar is steeds ‘n vraag na Suid-Afrikaanse produkte in die Midde-Ooste, maar uitvoerders moet gereed maak vir ʼn wisselvallige handelsomgewing terwyl die konflik voortduur. Dit is volgens die Absa AgriTrends-verslag. Loffie Brand van Absa AgriBusiness waarsku dat met petrol- en dieselpryse wat in April op ʼn maandgrondslag onderskeidelik met ongeveer 15- en 40-persent per liter gestyg het, gaan boere wie se plant- of oesseisoen begin kostedruk ondervind. Hy sê logistieke ontwrigting sal koste en risiko-profiel laat toeneem vir uitvoerders wat vragkoste moet betaal. Hy sê dit word veroorsaak deur skepe se verhoogde brandstofkoste.
# Die Spesiale Ondersoekeenheid het bewaringsbevele bekom vir bates wat aan Nako Mang Trading Enterprise behoort. Die maatskappy het na bewering tussen 2020 en 2023 eise van 19-miljoen-rand by die Werkloosheidsversekeringsfonds ingedien onder die tydelike Covid-19-verligtingsfonds. Die bewaringsbevel sluit in twee woon-eiendomme in Turffontein, Gauteng, ʼn landbou-hoewe in Union Forests Plantation Agricultural Holdings, en ʼn Mercedes-Benz W205. Die ondersoekeenheid se woordvoerder, Selby Makgotho, sê die maatskappy het ook indiensneming-verhoudings verkeerd voorgestel:
# Die Gautengse wetgewer se portefeuljekomitee oor Gemeenskapsveiligheid het die oproep vir ‘n vuurwapenvrye provinsie hernu na ‘n toename in gewelddadige skietvoorvalle. Dit kom na die dood van ‘n munisipale werknemer in Vanderbijlpark, en ‘n sakeman en sy sekuriteitswag wat in Ormonde doodgeskiet is. Die voorsitter van die komitee, Bandile Masuku, het die betrokkenheid van die polisie verwelkom. Masuku dring aan op sterker polisie-optrede en beter pogings om onwettige vuurwapens uit gemeenskappe te verwyder:
# China se ministerie van Buitelandse Sake sê Amerika se verskerpte militêre ontplooiing en geteikende blokkering van Iran-verwante skepe wat deur die Straat van Hormoes beweeg, is gevaarlik en onverantwoordelik. Ses handelsvaartuie moes gister terugkeer na Iranse hawens nadat hulle die Amerikaanse vlootblokkade bereik het wat beweging deur die seestraat beperk. Die ministerie sê die huidige skietstilstand is hoogs kwesbaar en die situasie in die streek is in ʼn kritiese fase. Hy sê slegs ʼn volledige skietstilstand kan die toestande skep om die situasie te verbeter.
# Krieket: Die ervare Protea-spelers Dané van Niekerk en Marizanne Kapp gaan die reeks van vyf T20’s teen Indië misloop, maar hoop om gereed te wees vir die Wêreldbekertoernooi wat op 12 Junie in Engeland begin. Van Niekerk herstel nog van ‘n besering en Kapp van siekte, en albei het die onlangse reeks teen die White Ferns van Nieu-Seeland misgeloop. Die reeks teen Indië begin Vrydag in Durban, gevolg deur nog ‘n kragmeting in die hawestad, twee in Johannesburg en die laaste een in Benoni, Gauteng.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-32-sent teen die dollar, 19-rand-25-sent teen die euro en 22-rand-15-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 74-duisend-712-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-848-dollar-39-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 91-dollar-48-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….