Nuus 18:00
BULLETIN 14 April 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Regsdienste-kommissie beveel Aubrey Ledwaba aan vir die pos as regterpresident van Gauteng
# Die Young Intelligent Minds bestempel die parlementêre ad hoc-komitee as ‘n mislukking
# En, Indiese krieketspelers oorheers die jongste Wisden-toekennings
# Die Regsdienste-kommissie het die adjunk-regterpresident van Gauteng, Aubrey Ledwaba, aanbeveel vir aanstelling as regterpresident van die Hooggeregshofafdeling in die provinsie. Ledwaba, wat die enigste kandidaat vir die pos was, dien sedert 2013 in die afdeling se leierskap. Die aanbeveling word nou aangestuur na president Cyril Ramaphosa vir finale aanstelling. Indien goedgekeur, sal Ledwaba amptelik die leierskap van die land se besigste hofafdeling oorneem, en toesig hou oor saakbestuur en geregtelike administrasie reg oor Gauteng.
En, regter Aubrey Ledwaba, sê bewerings van omkopery teen hom voor die Madlanga-kommissie is ongegrond, maar kan die integriteit van die regbank skaad. Die kommissaris van die Regterlike Dienskommissie, Maboku Mangena, het hom tydens sy onderhoud vir die hoofregter-posisie gevra waarom hy nie spesiale verlof oorweeg het nie omdat dit in die beste belang van die regbank is. Ledwaba sê hy het senior en afgetrede regters geraadpleeg:
# Die voorspraakgroep Young Intelligent Minds of South Africa, bestempel die Parlement se ad hoc-komitee wat beweerde misdadigheid, korrupsie en politieke inmenging in die strafregstelsel ondersoek, as ‘n mislukking en ‘n vermorsing van staatshulpbronne. Die groep se woordvoerder, Jeffrey Mabunda, sê die komitee het gepolitiseer geraak, het ‘n tekort aan kundigheid en versuim om sleutelgetuies behoorlik te ondervra. Hy voer aan die komitee se bestek is te eng, het misluk om belangrike figure aanspreeklik te hou en laat onbeantwoorde vrae.
# Krieket: Indiese spelers oorheers die jongste Wisden-toekennings wat as die glansrykste in die sport beskou word. Vier mansspelers van Indië is onder die publikasie se vyf spelers van die jaar -Shubman Gill, Ravidra Jadeja, Rishabh Pant en Mohammed Siraj – en die vyfde is die Engelse se aanvangskolwer Haseeb Hameed. Gill het ook die Wisden-trofee vir die beste toetsprestasie ontvang vir sy 330 lopies in die tweede toets teen Engeland op Edgbaston. Die voorste mansspeler is die Australiese snelbouler Mitchell Starc en die voorste vrouespeler Deepti Sharma van Indië.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-34-sent teen die dollar, 19-rand-28-sent teen die euro en 22-rand-19-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 75-duisend-490-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-798-dollar-58-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 93-dollar-18-sent per vat.
# En, laastens, Suid-Afrikaanse gesondheidskenners sê perifere neuropatie, wat deur skade aan die senuwees veroorsaak word, raak talle mense, maar baie is steeds onbewus van die vroeë waarskuwingstekens. Dit word dikwels in diabete gesien, maar ook in ouer mense of diegene met voedingstekorte, beserings en MIV. ‘n Praktiserende dokter wat op diabetes fokus, Shaifali Joshi, sê al kom dit algemeen voor, stel baie mense ondersteuning uit en beskou simptome dikwels as geringe ongemak:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….