Nuus 14:00
BULLETIN 14 April 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die borgtog-aansoek van ‘n pastoor wat beskuldig word van die verkragting van ‘n jong familielid is uitgestel
# Regter Ledwaba verdedig sy besluit om borgtog toe te staan aan ‘n moordbeskuldigde
# En tennis: Alcaraz is vasberade om die eerste plek op die wêreldranglys by Sinner terug te neem
# Die borgtog-aansoek van ‘n 58-jarige pastoor wat beskuldig word van die verkragting van sy 12-jarige familielid, is uitgestel in die Landdroshof in Roodepoort, Gauteng. Dit is om die verdediging toe te laat om verdere persoonlike besonderhede te bekom. Die beskuldigde het na bewering oor Paasnaweek die meisie in sy huis in Dobsonville verkrag. Inwoners, politieke leiers en leerders het voor die hof vergader om geregtigheid te eis. Die saak sal volgende Woensdag hervat te midde van verhoogde veiligheidsmaatreëls.
Build One South Africa se leier, Mmusi Maimane, het die beweerde verkragting veroordeel. Hy het aan eNCA gesê hierdie afskuwelike daad is nog ʼn waarskuwing oor die menslike koste van die regering se voortslepende versuim om die register van seksoortreders ten volle openbaar en toeganklik te maak. Maimane vra die maksimum vonnis indien die beskuldigde skuldig bevind word:
# Die Gautengse adjunk-regterpresident, Aubrey Ledwaba, het borgtog aan Katiso ‘KT’ Molefe verdedig, wat aangekla word van moord op ‘n ingenieur van Vereeniging, Armand Swart, in ‘n saak van vermeende identiteits-verwarring. Ledwaba het na bewering 2,5-miljoen-rand ontvang om borgtog van 100-duisend-rand toe te staan. Hy word tans deur die Regterlike Dienskommissie ondervra vir die posisie van regterpresident. Ledwaba sê die borgtogbesluit het regsprosesse gevolg ná die Vereenigingse Landdroshof se weiering:
# Die DA vra gemeenskappe om die Departement van Water en Sanitasie se damregulasies teen te staan en sê dit bedreig inwoners wat langs damme woon se ekonomiese voortbestaan. Die regulasies stel strenger beheermaatreëls in rondom toegang tot staatsdamme en ander waterwerke. DA-woordvoerder Igor Scheurkogel sê indien die regulasies in werking tree, sal alle ondernemings langs damme ‘n privaat-openbare vennootskap moet teken:
# Tennis: Die sewemalige Grand Slam-kampioen, Carlos Alcaraz, sê hy is gemotiveer om weer die eerste plek op die wêreldranglys te beklee. Die Spanjaard is deur sy Italiaanse teenstander, Jannik Sinner, onttroon nadat hy teen hom verloor het in die eindstryd van die Monte-Carlo-meesterstoernooi. Alcaraz sal terugkeer na die eerste posisie as hy dié week die Barcelona-ope in sy vaderland ‘n derde keer wen. Sinner het besluit om dié toernooi mis te loop. Alcaraz se veldtog begin vandag teen Otto Virtanen van Finland.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-35-sent teen die dollar, 19-rand-29-sent teen die euro en 22-rand-15-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 74-duisend-557-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-782-dollar-54-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 95-dollar-43-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….