Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 14 April 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met rugby: Tukkies van die Universiteit van Pretoria het die rekord verbeter met ‘n sesde Varsitybeker-titel met hul oorwinning van 31-3 oor die Noordwes-universiteit se Arende. Die tuisspan het teen rustyd 10-3 voorgeloop op die Tuks-stadion in Pretoria. Tuks het drie drieë gedruk en Divan du Toit het met drie strafskoppe geslaag. Die Arende se enigste punte was MJ Mostert se strafskop in die eerste helfte. Tuks is nou die mees bekroonde span in die toernooi terwyl die Universiteit Stellenbosch se Maties met vyf titels spog.
Sewes-rugbynuus: Die Springbok David Brits sê selfs al het hulle vanjaar se Wêreld-Sewesreeks gewen, begin hulle die naweek in Hongkong van voor af in die eerste van drie Wêreldkampioenskap-toernooie. Die ander twee toernooie vind plaas in Valladolid, Spanje, en Bordeaux, Frankryk, waarna ʼn groot-kampioen gekroon sal word. Die Blitsbokke speel in Hongkong in Groep A teen Argentinië, Spanje en Uruguay. Brits sê hulle is reg vir die uitdaging:
# Krieket: Die voormalige Lions-speler Beyers Swanepoel mag graafskapskrieket vir Worcestershire speel nadat hy ‘n sertifikaat van geen beswaar van Krieket Suid-Afrika gekry het. Hy was in ‘n onseker posisie nadat die Lions hom afgedank het toe hy halpad deur die Eendagbekereindstryd teen die Titans vertrek het om ‘n vlug Brittanje toe te haal. Sy span het dus net tien spelers gehad en het die wedstryd verloor. KSA sê hulle is kontraktueel verplig om die sertifikaat aan Swanepoel te gee nadat die partye ‘n beëindigingsooreenkoms bereik het.
Steeds by krieket, Punjab Kings is nou die enigste onoorwonne span in die Indiese Premierliga nadat Rajasthan Royals se vleklose rekord tot ‘n stotterende einde gekom het. Sunrisers Hyderabad het ‘n baie mededingende 216 vir ses aangeteken, waarna Praful Hinge drie paaltjies in sy heel eerste boulbeurt platgetrek het. Rajasthan was op nege vir vyf voor die Suid-Afrikaner Donovan Ferreira en Ravindra Jadeja ‘n sesdepaaltjie-vennootskap van 118 opgestel het. Maar dit was nie genoeg nie en Hyderabad het met 57 lopies gewen. Rajasthan is steeds boaan die punteleer en Punjab tweede.
# En swem: Atlete van Rusland en Belarus mag nou onder hulle eie vlae en volksliedere aan wêreld-watersportgeleenthede deelneem. Atlete van die lande is uit internasionale sportgeleenthede verban nadat Rusland Oekraïne in Februarie 2022 ingeval het. Die twee lande se atlete sal slegs toegelaat word nadat hulle vier agtereenvolgende opkikkertoetse geslaag het en agtergrondtoetse voltooi is. Wêreld-Watersport sê hulle het die afgelope drie jaar gewerk om seker te maak konflik bly buite die sportkompetisie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….