Nuus 08:00
BULLETIN 14 April 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Zane Dangor sê Ramaphosa het ‘n ambassadeur vir die VSA gekies
# OUTA dring daarop aan dat die Parlement die beskerming van fluitjieblasers versterk
# En rugby: UP-Tuks verbeter sy rekord met ’n sesde Varsitybeker-titel
# Die direkteur-generaal van die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Zane Dangor, sê president Cyril Ramaphosa het Suid-Afrika se nuwe ambassadeur in die VSA gekies. Dit is net meer as ‘n jaar sedert Ramaphosa se eerste amptelike ambassadeur in die tweede Donald Trump-administrasie, Ebrahim Rasool, skielik deur die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake, Marco Rubio, tot persona non grata verklaar en uit Amerika geskors is. Dit is nadat hy in ‘n openbare webinaar geïnsinueer het dat Trump ‘n wit oppermagleier is. Dangor het aan die Kaapstadse Persklub gesê dat Ramaphosa binnekort ‘n aankondiging sal maak.
# Die organisasie teen belastingmisbruik, dring aan dat die Parlement die Wet op Beskermde Bekendmakings versterk en waarsku dat fluitjieblasers kwesbaar bly ten spyte van voorgestelde hervormings. Die organisasie glo hoewel die wetsontwerp vordering aandui, moet mense wat korrupsie aanmeld steeds intimidasie, werkverlies, finansiële probleme en lang regsgedinge hanteer. Stefanie Fick van OUTA doen ‘n beroep op sterker, praktiese ondersteuning, insluitend ‘n onafhanklike liggaam om fluitjieblasers te beskerm:
# SECTION27 sê die Nasionale Vervolgingsgesag se besluit om individue te vervolg wat by die Life Esidimeni-tragedie betrek word, is ‘n betekenisvolle stap na geregtigheid en aanspreeklikheid. Minstens 141 pasiënte is tussen 2015 en 2016 dood nadat hulle van gelisensieerde fasiliteite na ongeregistreerde en swak toegeruste nieregeringsorganisasies verskuif is. SECTION27 se uitvoerende direkteur, Sasha Stevenson, sê die staat moet sy verbintenis om die regte, waardigheid en lewens van almal in psigiatriese inrigtings te beskerm, deur optrede toon:
# Die Verenigde Koninkryk se eerste minister, Keir Starmer, sê die ekonomiese uitwerking van die oorlog in die Midde-Ooste sal langer duur as die konflik self. Starmer en die Franse president, Emmanuel Macron, hou hierdie week ʼn leiersberaad om vrye deurgang te verseker in die seestraat waarlangs ʼn groot deel van die wêreld se olie- en gasvoorraad vervoer word. Hy sê hy wil die belangrike seeweg heropen sodat energiepryse so gou as moontlik kan daal:
# Rugby: Die Universiteit van Pretoria se Tuks het die rekord met ʼn sesde Varsitybeker-titel verbeter na hul 31-3-sege oor die Noordwes-universiteit se Arende. Die tuisspan het teen rustyd op die Tuks-stadion in Pretoria met 10-3 voorgeloop. Tuks het drie drieë gedruk en Divan du Toit het met drie strafskoppe geslaag. Die Arende se enigste punte was MJ Mostert se strafskop in die eerste helfte. Tuks is nou die mees bekroonde span in die toernooi terwyl die Universiteit Stellenbosch se Maties met vyf titels spog.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-40-sent teen die dollar, 19-rand-29-sent teen die euro en 22-rand-15-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 74-duisend-426-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-771-dollar-57-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 94-dollar-91-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….