Nuus 07:00
BULLETIN 14 April 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Presidensie verwerp Elon Musk se aantygings oor omkopery en rassisme vir Starlink
# Die staat eis 15 jaar regstreekse tronkstraf vir Malema
# En rugby: Die Blitsbokke is gereed vir ‘n nuwe uitdaging in Hongkong
# Die Presidensie ontken die multimiljardêr, Elon Musk, se bewerings dat sy satelliet-internetmaatskappy, Starlink, nie in Suid-Afrika mag sake doen nie omdat hy wit is. Hy voer aan Starlink kon deur omkopery ‘n telekommunikasie-lisensie kry deur voor te gee ʼn swart persoon bestuur die maatskappy se plaaslike afdeling. Die Presidensie se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê Musk moet aan beweeg en daar is tans 193 lidlande in die Verenigde Nasies waar hy kan geld maak.
# Die Staat eis regstreekse tronkstraf van 15 jaar vir die EFF-leier, Julius Malema, vir sy vuurwapenoortreding. Hy is skuldig bevind nadat hy in 2018 onwettig ʼn vuurwapen afgevuur het tydens ʼn EFF-saamtrek by die Sisa Dukashe-stadion in Mdantsane, Oos-Londen. Die vonnisprosedure vind môre en Donderdag in die Oos-Londen-landdroshof plaas. Malema het verlede week tydens ʼn nuuskonferensie herhaal dat hy teen die uitspraak gaan appelleer:
# Die Onderwysersvakbond, SADOU, sê die 9,5-persent premieverhoging vir lede van GEMS plaas ernstige finansiële druk op staatsamptenare, insluitend onderwysers. Die vakbond het by die vakbondfederasie Cosatu en die Federasie van Vakbonde van Suid-Afrika aangesluit om die verhoging teen te staan en waarsku dat gesondheidsorg vir baie werkers onbekostigbaar word. Die woordvoerder van SADOU, Nomusa Cembi voer aan die verhoging sal onlangse salarisverhogings uitwis te midde van stygende lewenskoste wat werkende huishoudings raak:
# Die premier van die Noord-Kaap, Zamani Saul, sê die provinsie verskerp pogings om die provinsiale ekonomie te laat groei en om werk te skep deur sterker ondersteuning vir klein besighede en verbeterde beleggingsfasilitering. Saul het tydens die bekendstelling van die nasionale bemagtigingsfonds en eenstopwinkel-inisiatief in Kimberley gesê, agt ondernemings wat deur die fonds ondersteun word, is verantwoordelik vir die skep van 229 werksgeleenthede en het 110 ander behou. Hy sê die inisiatief is deel van die provinsie se groter poging om klein besighede te laat groei, beleggings te lok en werkloosheid te verminder.
# ʼn Amerikaanse federale regter het president Donald Trump se lastersaak van 165,26-miljard-rand teen die Wall Street Journal en sy eienaar, Rupert Murdoch, verwerp. Trump het die saak aanhangig gemaak nadat die Wall Street Journal ʼn brief gepubliseer het wat hy beweer Trump in 2003 aan die seksoortreder, wyle Jeffrey Epstein, geskryf het. Trump sê die brief was ʼn vervalsing. Regter Darrin Gayles sê Trump kon nie bewys dat die koerant kwaadwillig opgetree het nie. Gayles het die saak sonder vooroordeel verwerp en Trump het tot 27 April tyd om ʼn gewysigde klag in te dien.
# Rugby: Die Springbok-sewesspeler, David Brits, sê selfs al het hulle vanjaar se Wêreld-Sewesreeks gewen, begin hulle die naweek in Hongkong van voor af in die eerste van drie Wêreldkampioenskap-toernooie. Die ander twee toernooie vind in Valladolid, Spanje, en Bordeaux, Frankryk, plaas voordat ʼn groot kampioen gekroon word. In Hongkong kom die Blitsbokke in Groep A teen Argentinië, Spanje en Uruguay te staan. Brits sê hulle is reg vir die uitdaging en om nuwe herinneringe te skep:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-39-sent teen die dollar, 19-rand-28-sent teen die euro en 22-rand-14-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 74-duisend-310-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-772-dollar-94-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 94-dollar-30-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….