Nuus 06:00
BULLETIN 14 April 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê beleidsonsekerheid beïnvloed beleggings
# Die DA verwelkom die besluit om individue betrokke by die Life Esidimeni-tragedie te vervolg
# En Donald Trump dreig om Iranse skepe te sink wat naby die Amerikaanse blokkade kom
# President Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrika is een van vele ekonomieë wat meeding om beleggings in ‘n tyd wanneer baie beleggers onseker is oor die rigting van die wêreldekonomie. In sy weeklikse nuusbrief sê hy die globale landskap het toenemend onseker en mededingend geword. Ramaphosa sê vordering word gemaak met die verwydering van hindernisse vir beleggings, aangesien dit nie onder toestande van beleidsonsekerheid kan realiseer nie. Hy sê die regering doen beslissende stappe om korrupsie uit te roei, afpersing op konstruksieterreine te voorkom en die rug van die onwettige ekonomie te breek.
# Die African Transformation Movement doen ‘n beroep op die Parlement om ‘n onafhanklike paneel te stig vir ‘n ampsklag teen president Cyril Ramaphosa oor bewerings van die Phala Phala-skandaal. Die bewerings hou verband met die verslag deur die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat oor die inbraak in 2020 op Ramaphosa se plaas, Phala Phala in Limpopo, waartydens Amerikaanse dollars gesteel is. Die woordvoerder van ATM, Zama Ntshona sê die bevindinge, tesame met ‘n vorige onafhanklike paneelverslag, gee genoeg rede vir ‘n moontlike ampsklag:
# COSATU en die Federasie van Vakbonde van Suid-Afrika, FEDUSA, het hul veldtog verskerp teen ‘n 9,5-persent verhoging van premies vir lede van GEMS, wat die onlangse salarisverhogings uitwis. Die organisasies waarsku dat dit staatsamptenare in finansiële nood sal plaas te midde van stygende lewenskoste. Die vakbonde sê GEMS het eise vir die kansellering van die 2026-verhoging geïgnoreer. Die vakbonde sal optrede verskerp en is gereed vir massabetogings indien gesprekke misluk.
# Die DA in Gauteng het die Nasionale Vervolgingsgesag se besluit verwelkom om regstappe te doen teen individue wat betrek word by die Life Esidimeni-tragedie. Die tragedie het tussen 2015 en 2016 ontvou toe psigiatriese pasiënte van gelisensieerde sorgfasiliteite na ongeregistreerde en swak toegeruste sentrums verskuif is. Dit het gelei tot die dood van sowat 141 pasiënte. Die aanklagte sal strafbare manslag insluit. Jack Bloom van die DA sê suksesvolle vervolgings sal as ‘n afskrikmiddel dien deur werklike gevolge te toon vir diegene wat kwesbare pasiënte mishandel:
# President Donald Trump het gedreig om enige Iranse skepe wat naby die Amerikaanse blokkade van Iranse hawens kom, te sink. Die blokkade het gisteraand in werking getree, met Trump wat beweer hy het 158 Iranse skepe “uitgewis”. Die skepe van die Amerikaanse Sentrale Kommando wat tussen nie-Iranse hawens reis, sal toegelaat word om deur die Straat van Hormoes te vaar. Trump sê hulle sal dieselfde stelsel van uitskakeling gebruik as wat teen die dwelmhandelaars op bote in die Karibiese See en Stille Oseaan gebruik is. Meer as 300 vermeende dwelmsmokkelaars is sedert September verlede jaar dood.
# Krieket: Die voormalige Lions-speler Beyers Swanepoel mag graafskapskrieket vir Worcestershire speel nadat hy ‘n sertifikaat van geen beswaar by Krieket Suid-Afrika gekry het. Hy was in ‘n onseker posisie nadat die Lions hom afgedank het toe hy halfpad deur die Eendagbekereindstryd teen die Titans vertrek het om ‘n vlug Brittanje toe te haal. Sy span het dus net tien spelers gehad en het die wedstryd verloor. KSA sê hulle is kontraktueel verplig om die sertifikaat aan Swanepoel te gee nadat albei partye ‘n beëindigingsooreenkoms bereik het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-37-sent teen die dollar, 19-rand-26-sent teen die euro en 22-rand-12-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 74-duisend-280-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-748-dollar-81-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 94-dollar-70-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….