Nuus 15:00
BULLETIN 13 April 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die polisie-sersant Fannie Nkosi ontken aanklagte in die Landdroshof in Pretoria
# Tennis: Die ATP-ranglys verander aansienlik ná die Monte-Carlo-meesterstoernooi
# En die VN sê militêre toename in die Midde-Ooste kan meer as 32-miljoen mense wêreldwyd in armoede dompel
# ‘n Sersant van die Gautengse georganiseerde misdaad-eenheid, Fannie Nkosi, het verskeie aanklagte teen hom ontken in die Landdroshof in Pretoria-Noord. Hy word aangekla van onder meer diefstal, die besit van ongelisensieerde ammunisie en handgranate, en regsverydeling. Nkosi se regsverteenwoordiger, Thulani Mngomezulu, het aan die hof gesê sy kliënt gaan onskuldig pleit en vra borgtog. Hy hou vol die aanklagte is vals en sê hy is nie ‘n vlug-gevaar nie:
# ‘n Getuie voor die Madlanga-kommissie, die sakeman van Noordwes en ANC-streektesourier Suliman Carrim, is na die Netcare Milpark-hospitaal in Johannesburg gehaas nadat hy vermoedelik ‘n hartaanval gehad het terwyl hy in ‘n gimnasium geoefen het. Sy toestand is nie bevestig nie. Carrim sou Donderdag voortgaan met sy getuienis oor korrupsiebewerings verbind aan die sakeman Vusimuzi “Cat” Matlala en ‘n polisie-kontrak van 360-miljoen-rand. Sy getuienis sluit in ‘n belegging van 12-miljoen-rand in Medicare24 wat met Matlala verbind word, sowel as omkoopgeld en onbehoorlike verhoudings.
# Die Kaapse Onafhanklikheidsgroep verwelkom Geordin Hill-Lewis se verkiesing tot federale leier van die DA en sê dis ‘n geleentheid om debat te bevorder oor groter provinsiale selfbestuur. Woordvoerder Phil Craig sê herhaalde pogings tot betekenisvolle afwenteling van nasionale regering het misluk ondanks grondwetlike bepalings wat selfbeskikking steun. Hy sê hulle sal voortgaan om belanghebbendes te betrek en streeksmagte binne die grondwetlike raamwerk te versterk om Wes-Kaapse inwoners beter te dien:
# Tennis: Die jongste manswêreldranglys toon beduidende veranderinge na die Monte-Carlo-meesterstoernooi. Die Italianer Jannik Sinner vervang Carlos Alcaraz boaan die ATP-ranglys na hy die Spanjaard in die eindstryd geklop het. Alexander Zverev van Duitsland is steeds derde en Novak Djokovic van Serwië vierde. Die Kanadees Felix Auger-Aliassime het twee posisies opgeskuif en die Amerikaner Ben Shelton het ook twee plekke verbeter na sesde. Die Australiër Alex de Minaur is nou sewende, gevolg deur die Amerikaner Taylor Fritz en die Italianer Lorenzo Musetti, terwyl die Rus Daniil Medvedev die top-tien afrond.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-52-sent teen die dollar, 19-rand-33-sent teen die euro en 22-rand-20-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-887-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-722-dollar-33-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 98-dollar-51-sent per vat.
# En ten slotte: Meer as 32-miljoen mense wêreldwyd kan in armoede gedompel word deur die ekonomiese gevolge van die Midde-Oosterse oorlog. Dit is volgens ‘n verslag deur die Verenigde Nasies se Ontwikkelingsprogram, wat verklaar dat die wêreld ‘n driedubbele skok kan ondervind: energie, voedsel en swakker ekonomiese groei. Die program sê hoewel ryk lande in ‘n sterker posisie is om die ekonomiese gevolge van die oorlog te versag, is nasies in die globale suide in ‘n swakker posisie en ondervind reeds ernstige finansiële beperkings.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….