Nuus 13:00
BULLETIN 13 April 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ondersoek na die moord op ‘n rekenmeester van Emfuleni word oorhandig aan die Gautengse taakspan vir politieke moorde
# President Cyril Ramaphosa sê daar is hernude vertroue in die ekonomie
# En gholf: Nog ‘n verlore kans vir Justin Rose om die Amerikaanse Meesters te wen
# Die Gautengse polisie se taakspan vir politieke moorde het die ondersoek na die moord op ‘n rekenmeester van die Emfuleni-munisipaliteit oorgeneem. Martha Rantsofu is einde verlede maand in Vanderbijlpark doodgeskiet. Die stap dui op die bespoediging van die saak, te midde van besorgdheid oor geteikende of georganiseerde geweld wat verband hou met munisipale werk. Die eenheid sal pogings lei om verdagtes te identifiseer, die motief te bepaal en bewyse in te samel. Die polisie sê niemand is nog in hegtenis geneem nie.
# President Cyril Ramaphosa sê daar is hernude vertroue in die land se ekonomie na die sukses van die sesde Suid-Afrikaanse beleggingskonferensie. ‘n Rekordbedrag van 890-miljard-rand se beleggingsbeloftes is verseker. Ramaphosa sê in sy weeklikse nuusbrief dis betekenisvol dat ‘n aansienlike deel van die beloftes van binnelandse oorsprong was, insluitend ‘n kombinasie van nuwe verbintenisse en reeds beplande kapitaalbeleggings. Hy sê elke beleggingsbesluit word gevorm deur die geloofwaardigheid en bestendigheid van die ekonomiese omgewing en verwagtinge van die beleggingsopbrengs.
# Die GOOD-party sê die Wes-Kaapse regering mors miljarde rand op ‘n betekenislose veiligheidsplan, in plaas daarvan om sy verantwoordelikhede na te kom en toesig te hou oor die hervorming van die hopelose apartheids-omstandighede op die Kaapse Vlakte. Meer as 30 mense is volgens berigte in bendeverwante skietvoorvalle dood sedert die ontplooiing van die Weermag. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê die weefsel van die gebied se gemeenskappe is gebreek:
# Gholf: Die Brit Justin Rose het sy frustrasie gelug nadat hy weer nie die Amerikaanse Meesterstoernooi kon wen nie. Hy het saam derde geëindig nadat hy in ‘n stadium in die laaste ronde twee houe voor was. Rory McIlroy het gewen. Die 45-jarige Rose het ook verlede jaar teen McIlroy verloor in ‘n uitspeelronde. Rose erken dit was ‘n kans wat hy deur sy vingers laat glip het:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-53-sent teen die dollar, 19-rand-33-sent teen die euro en 22-rand-20-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-721-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-718-dollar-33-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 99-dollar-17-sent per vat.
# En ten slotte: Pous Leo het sy tiendaagse toer in Afrika begin waartydens hy Algerië, Kameroen, Angola en Ekwatoriaal-Guineë sal besoek. Die reis plaas die vasteland as die middelpunt van ‘n internasionale boodskap oor vrede, ongelykheid en verantwoordelikheid, met oorloë wat geopolitieke onmin en ekonomiese druk vererger. Dit beklemtoon ook ‘n ingrypende demografiese verskuiwing in die Katolieke Kerk. Ongeveer een uit elke vyf Katolieke wêreldwyd is in Afrika, met die bevolking wat vinniger groei as op enige ander plek, terwyl gemeentes in Europa afneem.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….