Nuus 11:00
BULLETIN 13 April 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Godongwana en die president van die Reserwebank is nie geakkrediteer om die G20 se finansiële vergaderings by te woon nie
# Elon Musk beweer Starlink is omkoopgeld aangebied om in Suid-Afrika sake te doen
# En rugby: Twee bekende Springbok-vrouesewesspelers word opgeroep vir Hongkong
# Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, en die president van die Suid-Afrikaanse Reserwebank, Lesetja Kganyago, is nie geakkrediteer om die komende vergadering van die G20-lande se finansiële hoofde in Washington by te woon nie. Amerika het die jaarlikse roterende presidentskap in November verlede jaar by Suid-Afrika oorgeneem. Godongwana het aan Bloomberg gesê Suid-Afrika sal nie vanjaar deel wees van die G20 nie. President Donald Trump het Suid-Afrika reeds verbied om later vanjaar die G20-beraad in Miami by te woon.
# Die multimiljardêr Elon Musk beweer dat sy satelliet-internetmaatskappy, Starlink, ‘n gunsloon aangebied is vir ‘n telekommunikasielisensie in Suid-Afrika deur voor te gee dat ‘n swart persoon die maatskappy se plaaslike bedryf bestuur. Die land se swart ekonomiese bemagtigings-beleid vereis dat buitelandse telekommunikasielisensies 30-persent van die ekwiteit in hul plaaslike filiale aan voorheen-benadeelde groepe moet verkoop. Musk beweer in ‘n reeks plasings op X dat Starlink ‘n bedryfslisensie geweier is omdat hy nie swart is nie. Hy sê hy het uit beginsel geweier om omgekoop te word.
# Gauteng se LUR vir Onderwys, Lebohang Maile, sê hoewel die provinsiale onderwysbegroting die afgelope jare aansienlik verhoog het, bly finansiële beperkings ‘n groot uitdaging. Die nasionale onderwysbegroting het toegeneem van 31,4-miljard-rand in 1995/96 tot net meer as 358,5-mijard in 2025/26. Die provinsiale onderwysbegroting het in dieselfde tydperk toegeneem van 4,5-miljard- tot 70,9-miljard-rand in 2026/27. Maile sê dit verteenwoordig ʼn toename van een-duisend-476-persent oor 31 jaar:
Nuus uit die buiteland:
# Donald Trump sê hy gee nie om of Iran na die onderhandelingstafel terugkeer nie nadat die naweek se vredesgesprekke in Islamabad, Pakistan, ‘n dooiepunt bereik het. Iran se minister van Buitelandse Sake, Abbas Araghchi, sê hulle het byna ‘n ooreenkoms bereik, maar is met maksimalisme en verskuiwende doelpale begroet. Trump het op die militêre basis Andrews naby Washington opnuut beweer dat Iran se militêre vermoëns verswak is:
# Rugby: Twee Springbok-vrouesewesspelers, Zintle Mpupha en Eloise Webb, is na die groep teruggeroep vir die eerste Sewes-wêreldkampioenskaptoernooi, wat hierdie naweek in Hongkong gespeel word. Mpupha het in Januarie vir die nasionale groep uitgedraf, terwyl Webb die span laas in 2024 verteenwoordig het. Die afrigter, Cecil Afrika, het ook die nuwelinge Jané Mulder en Owami Mohuli by die groep ingesluit. Mpupha sê die senior spelers is gereed om nog ‘n tree vorentoe te gee:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-56-sent teen die dollar, 19-rand-35-sent teen die euro en 22-rand-21-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-58-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-723-dollar-21-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 97-dollar-91-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….