Nuus 09:00
BULLETIN 13 April 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Elon Musk beweer Starlink is omkoopgeld aangebied om in Suid-Afrika sake te doen
# Die VF Plus sê streekshandelsbeperkings plaas landbou, werkskepping en bestendigheid in gevaar
# En Brittanje sê hy sal nie betrokke wees by die Amerikaanse blokkade van die Straat van Hormoes nie
# Die multimiljardêr Elon Musk beweer dat sy satellietinternetmaatskappy, Starlink, ‘n gunsloon aangebied is vir ‘n telekommunikasielisensie in Suid-Afrika deur voor te gee dat ‘n swart persoon die maatskappy se plaaslike entiteit bestuur. Die land se breëbasis swart ekonomiese bemagtigingsbeleid vereis dat buitelandse telekommunikasielisensies 30-persent van die ekwiteit in hul plaaslike filiale aan histories benadeelde groepe moet verkoop. In ‘n reeks plasings op X het Musk beweer dat Starlink ‘n bedryfslisensie geweier is omdat hy nie swart is nie. Hy het bygevoeg dat hy uit beginsel geweier het om omgekoop te word.
# Die Vryheidsfront Plus sê die handelsbeperkings wat deur Namibië, Botswana en Mosambiek op Suid-Afrikaanse landbou-uitvoere ingestel is, plaas die land se landbousektor in gevaar en ondermyn streekshandel en ekonomiese bestendigheid in Suider-Afrika. Ongeveer 17-persent van Suid-Afrika se landbou-uitvoere was verlede jaar op pad na die Suider-Afrikaanse Doeane-unie-streek. Jaco Mulder van die VF Plus sê die beperkings plaas ook duisende werksgeleenthede in die landbou- en logistieke sektor in gevaar:
# Die leier van ActionSA en burgemeesterskandidaat vir Johannesburg, Herman Mashaba, het kommer uitgespreek oor die afgradering van die kredietvooruitsigte van die Stad Johannesburg. Die Global Credit Rating Company het wesenlike onsekerheid in die metro se ouditproses uitgewys, nadat hy nie sy jaarlikse finansiële state gepubliseer het nie. ActionSA se woordvoerder, Omogolo Taunyane, sê vroeër vandeesmaand het die Johannesburgse Effektebeurs die metro van verhandeling geskors oor hierdie kwessie, ‘n voortslepende wanbestuurskrisis:
# Die Britse regering sê hy sal nie betrokke raak by ‘n blokkade van die Straat van Hormoes nie. Dit volg nadat president Donald Trump gesê het dat die Amerikaanse vloot die noodsaaklike skeepsroete sal blokkeer, en elke vaartuig in internasionale waters wat ‘n tol aan Iran betaal het, sal verbied. Brittanje sê hy werk dringend saam met Frankryk en ander vennote om ‘n wye koalisie saam te stel om die vryheid van navigasie te beskerm. Hy sê die heropening van die Straat is dringend nodig om die wêreldekonomie te ondersteun.
# Sokker: Die agtmalige kampioene, Manchester City, het Arsenal se voorsprong op die Premierliga-punteleer tot ses punte verminder met een wedstryd wat oorbly. City het Chelsea gister by Stamford Bridge met 3-0 verslaan, met doele deur Nico O’Reilly, Marc Guehi en Jeremy Doku. Arsenal het Saterdag met 2-1 teen Bournemouth verloor. City speel Sondag op die Etihad-stadion gasheer vir die Gunners. Intussen het Tottenham Hotspur onder sy nuwe bestuurder, Roberto de Zerbi, ‘n 1-0-nederlaag teen Sunderland gely, terwyl Nottingham Forest hulle hoop op oorlewing lewend hou met ʼn gelykopwedstryd van een elk teen Aston Villa.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-54-sent teen die dollar, 19-rand-33-sent teen die euro en 22-rand-17-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-972-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-714-dollar-47-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 98-dollar-62-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….